Dagstuk | Maandag 6 November 2023

Ons gaan in die volgende paar dae oor rentmeesterskap praat. Tydens ons tiendemaandinsameling kry ons die geleentheid om ons tiendemaanddankoffer na die skatkis van die Here te bring. Ons tiendemaanddankoffer word vanaf Oktober tot Februarie ingesamel. Hierdie is ‘n spesiale bydrae wat ek bo en behalwe my maandelikse bydrae of bankkollekte gee. Baie dankie by voorbaat vir u ondersteuning ook vir hierdie belangrike dankoffer. Die volgende paar dae gaan ons bietjie saam dink oor die gee van offers.  Ek weet al te goed dat dit is ʼn baie sensitiewe onderwerp is en ons wil gewoonlik nie daaroor praat, of iets daaroor hoor nie. Maar ek wil jou uitnooi om die volgende paar dae saam met my te reis en te hoor wat die Here weer hieroor wil sê.

Spreuk: 3:9-10. Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, 10dan sal jou skure oorvol wees

Ons begin vandag met ʼn paar inleidende gedagtes. Daar is twee ekonomiese stelsels in die wêreld. God se ekonomie en die ekonomie wat deur mense ontwikkel is. Die mees beduidende verskil tussen hierdie twee ekonomie stelsels is dat in God se ekonomiese stelsel, speel Hy die sentrale rol. Die manier waarop die meeste mense vandag hulle finansies hanteer is egter op die wêreldse manier.

Dit is interessant om te weet dat daar omtrent 2350 verse in die Bybel is oor geld en hoe ons dit moet hanteer. Naas die Koninkryk van God, is dit die een onderwerp waaroor die meeste in die Bybel gepraat word, geld en die regte gebruik daarvan. In die Evangelies handel 10% van die verse (288) direk oor geld. Sestien van Jesus se 38 gelykenisse handel oor die regte aanwending van geld en besittings. Dit gaan oor ‘n persoonlike verhouding en ‘n verantwoordelikheid wat elke lidmaat en elke gesin voor die Here het om as rentmeesters hulle finansies op die regte wyse te spandeer.  Dit gaan oor wat God vir jou sê oor die geld wat jy bestuur.

Die riglyne wat ek graag in die volgende paar dae aan jou wil voorhou is Skrifbeginsels om elke lidmaat te help om op ‘n sinvolle, verantwoordelike wyse met die geld wat God aan jou as Sy rentmeester toevertrou het, om te gaan.  Dit gaan hier oor God en Sy wil en ons gehoorsaamheid daaraan.

GEBED

Here, gee my asseblief wysheid om my finansies te bestuur. Amen