Deur: Rudolph van Schoor
Is jy ’n gedrewe persoon tussen die ouderdom van 29-35? Het jy reeds ‘n groot deel van jou loopbaandoelwitte bereik en word jy beskou as ’n toppresteerder in die korporatiewe maatskappy waar jy werk? Midde-in jou suksesvolle loopbaan en lewenstyl, ervaar jy dalk ’n paar uitdagings in die huidige lewensfase waarin jy jou bevind.
Hierdie jaar het baie jong volwassenes met hierdie profiel my genader om my as ’n klankbord vir die volgende vrae te gebruik:
- Ek het het die kwalifikasie wat my ouers en onderwysers wou hê ek moes behaal, verwerf en my loopbaan tot op bestuursvlak ontwikkel. Wat nou? Ek is nie gelukkig nie.
- Ek is nou gereed om ’n huis te koop, maar ek weet nie of dit die regte besluit in die huidige ekonomiese omstandighede is nie.
- Dit lyk na ’n groot risiko om met ’n gesin te begin.
- Ons is twee jaar getroud en ek is bekommerd dat ek die fout van my lewe gemaak het. Het ek reg gekies? Hoe weet ek?
- Ek is 31 jaar oud en is nog enkellopend. Is daar iets fout met my? Hoe hanteer ek die nuwe digitale wêreld van aanlyn romanse (dating)?
- Ek is baie tevrede met my loopbaankeuse en my kwalifikasies. Hoe kan ek na die volgende posvlak in my beroep beweeg? Moet ek ’n nuwe maatskappy soek om voor te werk?
- My werksomgewing is toksies. Hoe bestuur ek die werkspolitiek en my baas se humeur? Is dit beter om ’n ander werkplek te soek?
Die lys van vrae is baie lank en bogenoemde is net voorbeelde van die aangeleenthede waarmee jong volwassenes worstel. Dit sentreer gewoonlik rondom vier areas wat die belangrike lewensfases kenmerk: romantiese verhoudings of die huwelik, besluite oor loopbane, die besluit om met ’n gesin te begin en die koop van ’n huis.
Ongelukkig is daar nie maklike antwoorde nie, en my idees oor dié situasies raak ook soms op. Dit is nie ’n maklike lewensfase om jouself in te bevind nie, en hierdie uitdagings dwing jou om eerder na binne te kyk, as om na buite na vinnige oplossings te soek. Jy besef dat die besluite wat jy nou neem, ’n groot impak op jou lewe kan hê, maar waar begin jy en hoe benader jy dit op ’n verantwoordelike manier?
Die regte vertrekpunt is om vyf belangrike vrae te beantwoord:
Wie is ek?
Wat is my waardes?
Wat glo ek?
Wat is die regte vrae?
Is die inligting wat ek inwin toepaslik?
Navorsing deur sielkundiges en teoloë wat in psigo-spiritualiteit spesialiseer, beweer dat jou persoonlikheid teen jou vroeë dertigs in ’n redelike mate gevorm is. Lewensveranderende besluite moet dan eerstens geneem word op grond van ‘n diep begrip van wie jy as persoon is, asook jou diepgewortelde waardes en behoeftes. Dit is baie belangrik om bewus te wees van jou lewensuitkyk en dit waarin jy glo. Sonder dat jy dit besef, kan dit jou in ’n rigting stuur wat moontlik later problematies kan wees.
Wanneer ’n mens goeie insig het in wie jy is en weet wat jou waardes en jou lewensuitkyk is, kry jy ’n beter begrip van watter rigting jy moet inslaan. Dit help jou om kwaliteitvrae te stel en om relevante inligting in te win oor die temas waarmee jy worstel. Alles sal dan meer sin maak en met mekaar strook. Dit skep ’n gevoel van kongruensie met jou medemens en kan jou met ongelooflike energie en kreatiwiteit vervul.
Die geheim is kongruensie, wat in hierdie konteks beteken dat jou ware self én die wyse waarop mense jou ervaar, ooreenstem. Jou natuurlike gedrag en jou selfbeeld moet dus ooreenstem. Wanneer jy besluite neem wat gegrond is op jou eie identiteit en vanuit ’n posisie van kongruensie, sal jy ontdek dat die pad vorentoe helderder word. Jy sal meer verstaan oor wat die Here met jou skepping in gedagte gehad het en besef dat jou unieke self, op hierdie tydstip, ‘n waardevolle bydrae tot die wêreld kan wees.
| Rudolph van Schoor is ’n lewensafrigter en traumaspesialis by die Stellenberg Terapiesentrum.