Maria, dogter van Evert – sal jou mond laat water

Op Maandag 15 Januarie 2024 open Willi en Ronèl Botha ’n splinternuwe restaurant Maria, dogter van Evert se deure op die kerkterrein.   Tydens die feesmark het hulle ’n opskiet-koffiewinkel op dieselfde perseel bedryf.

Stellenberger het by Willi en Ronèl gaan inloer in hulle pragtige restaurant, Evert Opstal-restaurant, om te hoor wat hulle in die mou voer met die nuwe restaurant hier in ons midde.  Tussen die reuk van vars gebak, die pragtige skilderye teen die mure en ’n atmosfeer wat bruis met mense en lekkernye, het Willi en Ronèl vertel dat die naam van die nuwe restaurant Maria, dogter van Evert gewortel lê in hulle voorliefde vir familiestories.  “Elke persoon het ’n familiestorie en ’n mens se unieke familiestorie speel tog ’n belangrike rol in jou vorming as mens,” sê Ronèl. “Dit is ook hoekom ons op die naam Maria vir die nuwe restaurant besluit het. Maria, of Swarte Maria, soos sy in die 1600’s en 1700’s bekend gestaan het, was die dogter van Evert, wat in die opstal, waaruit ons nou ons restaurant bedryf, gewoon het.”

Willi vertel dat Evert ’n slaaf van Jan van Riebeeck was.  “Met Van Riebeeck se vertrek uit die Kaap het hy Evert vrygekoop en aan hom ’n bedrag geld voorsien waarmee Evert toe sy vrou, Anna en twee dogters ook vrygekoop het.  Evert het aanvanklik in die omgewing van die tuinhuis in Kaapstad groente, waarmee hy handel gedryf het, verbou.  Hy was ’n goeie besigheidsman en nadat hy genoeg welwaart opgebou het, het hy sy boedery na ander gebiede uitgebrei en het hy onder andere in die Evert Opstal ook gewoon.

“Ek twyfel of Maria ooit saam met haar pa in hierdie area gewoon het, maar dit is nie vir my so belangrik nie,” sê Willi.  “Maria het by haar pa geleer hoe om handel te dryf en transaksies te beklink en sy het haarself tot ’n suksesvolle en baie welgestelde besigheidsvrou en ’n gesiene boer opgewerk.  Sy het onder andere plase soos Mosselbank in Klipheuwel en Klawervlei in Darling besit, asook uiteindelik die hele Kampsbaai. Haar verhouding met haar pa is vir my die kern van haar verbintenis met die Evert Opstal en ook ons omgewing.”

Willi het baie jare in die hotelbedryf gewerk en met die doel om ’n leefstylverandering te maak, in 2002 saam met Ronèl ’n restaurant in George geopen.  Sedertdien is dié gedugte egpaar voltyds in die restaurantbedryf en het hulle in die middel van die Covid-19-pandemie die Evert Opstal-restaurant geopen.  Vir beide Willi en Ronèl is familiewaardes baie belangrik.  “Ons eie gesin is ons prioriteit en ons personeel raak regtig ook vir ons soos familie”, sê Willi.  “Ons restaurant is in Desembermaand vir twee weke gesluit juis omdat dit vir ons belangrik is dat ons personeel tyd saam met hulle eie families ook moet deurbring.”

“Wanneer klante by ons restaurant se deur instap, moet hulle tuis en welkom voel,” sê Ronèl.  “Dit moet amper vir ’n mens voel asof jy by jou ouma se voordeur inloer.  Daarom is ons dekor in die restaurant ook baie huislik en glad nie klinies en gestruktureerd nie.  Ons wil graag die Maria-restaurant ook meer huislik inrig en sal van ons eie skilderye en meubels wat by die opstal se styl aanpas, ook daar inspan.

“Die Maria-restaurant se spyskaart sal ’n bietjie meer informeel as die Evert-restaurant s’n wees, met ’n fokus op informele kontreikos.  Ons beoog ook om klaar voorbereide geregte soos bobotie te verkoop, sodat ons besige ma’s kan ondersteun om iets heilsaams vir aandete aan hulle gesinne voor te sit.   Lekker koffie, vars gebakte brode, ander gebak, blomme, konfyt, en snuisterye sal ook by Maria te koop wees.”

Indien jy in die nuwe jaar ’n gesellige en hartlike ruimte soek om ’n kollega, vriend of vriendin te ontmoet, moenie van Maria, dogter van Evert vergeet nie.  Heerlike kos, vriendelike diens en gerieflike parkering is almal sleutelbestanddele tot dié wenresep.