Ons is baie trots op die vier Stellenbergers, van links op die foto, Ané Bowman, Mieke Fourie, Tian Serfontein en Emma Kriek, almal graad 6-leerders van Laerskool Eversdal, wat tot die finale rondte van die Bybelvasvrakompetisie deurgedring het. Die Rapportryerbeweging bied jaarliks dié landwye Bybelvasvrakompetisie aan.
Die vier Bybelkenners is weekliks deur Rona Serfontein (Tian Serfontein se ouma) en Aneleh Bowman voorberei om die afdelings van die Bybel waaroor hulle getoets is, onder die knie te kry. Die skrifgedeeltes wat dié jaar onder die soeklig gekom het, was Filippense 1 tot 4, Deuteronomium 1 tot 4 en Matteus 1:18 tot Matteus 14. Hulle het hul voorbereiding uit die Afrikaanse 1983-vertaling – met herformulering – gedoen.
Die eerste rondte van die kompetisie is op 21 Augustus aangepak, waar die spannetjie Stellenbergers ’n eerste plek provinsiaal en tweede plek nasionaal verower het. In Oktober het die span deelgeneem aan die eindrondte van die kompetisie wat by die ATKV-oord te Klein Kariba in Bela-Bela aangebied is en hulle het op nasionale vlak ’n trotse vierde plek behaal.
Ds. Schoombie het as toesighour by die eerste rondte van die kompetisie opgetree en opgemerk dat die vrae moeiliker was as wat hy verwag het en dat ’n mens die kompetisie glad nie moet onderskat nie. Baie geluk aan die vier Bybelkenners. Die voorbereiding was harde werk, maar hulle toewyding het vrugte afgewerp.