Dagstuk | Maandag 30 Oktober 2023

Vandag is Maandag 30 Oktober en hierdie week rig ons as ’n feesgeleentheid in om die hervorming in kerkwees te vier.  Martin Luther het dit op 31 Oktober 1517 begin omdat hy dapper genoeg was om 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vas te spyker. Hierdie stellings het gegaan oor probleme wat met die leer en praktyke van die kerk van daardie tyd ondervind is.

Martin Luther was ’n priester en hy wou hierdie 95 sake onder die aandag van die kerk van daardie tyd bring, byvoorbeeld dat mense nie moes betaal vir hulle sonde nie, maar deur genade vrygespreek is. Dit was die begin van die Reformasie / Hervorming.

Hy het ook die Bybel in Duits vertaal, sodat gewone mense dit ook kon lees (voorheen was dit net in die brontale Grieks en Hebreeus beskikbaar, en in Latyn vertaal – wat net die priesters kon lees). Hy het geglo God praat deur die Bybel met alle mense.

Die stappe het tot die geboorte van die Protestante kerke gelei, waarvan die NG kerk vandag deel is.

Die 95 besware vind uitdrukking in die vier solas soos ons as gereformeerdes dit vandag ken:

Sola Scriptura – die Woord/Bybel alleen

Sola Gratia – genade alleen

Sola Christi – Christus alleen

Sola Fidé – geloof alleen

Dit kan saamgevat word in die vyfde sola:

Soli Deo Gloria – Aan God alleen die eer.

Mag ons hierdie week sien as ‘n geleentheid om na te dink oor die erfenis van die Reformasie, die betekenis van die Skrif, en die vrye genade van God. Mag dit ons herinner om God se genade te omhels en aan Hom alleen die eer in ons lewens te gee. Die Reformasie viering is ook vir ons elkeen ’n uitnodiging om voortdurend te vernuwe. Romeine 12:2 sê dit so mooi: “… maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”.

Gebed: Here, ek bid dat U vir ons sal help met dapperheid om U met toegewyde harte te dien. Kom vernuwe ons met nuwe insigte tot verheerliking van u Naam. Amen.