Dagstuk | Maandag 23 Oktober 2023

Die afgelope twee weke is die nuus oorheers deur die onlangse konflik wat in Israel en Gaza uitgebreek het. Dit mense wêreldwyd in verskillende kampe verdeel en ‘n klomp kleiner oorloë tussen mense aan die gang gesit. Alhoewel hierdie oorlog baie ver buite ons eie landsgrense woed, het dit ‘n groot en belangrike impak op ons lewens.  Daarom het ek gekies om in hierdie week se dagstukkies Bybeltekste te oordink wat met ons praat oor ons eie vasgeloopte situasies.

Romeine 12:21

“Moet jou nie deur kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie”

Ons het die afgelope weke baie grafiese beelde gesien van die konflik tussen Israel en Hamas waarin soveel onskuldige mense hulle lewens verloor het. Watter reaksie het dit in jou losgemaak? ‘n Mens sou lank verskeie politieke en godsdienstige argumente kon debatteer om te bepaal wie jy ondersteun. Die bekroonde skrywer Yval Noah Harrari wat die bekende boek Sapiens geskryf het en wat self in Israel woonagtig is en vriende en kennisse aan die dood afgestaan het, het die volgende oor die situasie gesê: Most nations in history are sometimes victims and sometimes perpetrators, and sometimes both at the same time. Daar is een beginsels wat beide Israel se regse regering en Hamas in gemeen het. Hulle onderskryf dieselfde godsdienstige beginsel van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Vergelding ken geen einde nie. Jy kan nie iets regmaak deur verkeerd op te tree nie. Terwyl die twee politieke entiteite in weerwraak vasgekeer is, is daar een ding wat beide hulle burgers in gemeen het. Hulle deel in dieselfde hartseer en verlies wat dood bring. Dit bring hulle op dieselfde vlak van menswees om mekaar en hulle omstandighede anders te sien, maar wraak het ‘n goeie kans om die kwaad te laat seëvier. Ons kan beide die oortreder en slagoffer wees.

Jesus het gekies om deur sy lyding, sterwe en liefde met alle mense se basiese menswees te resoneer om dié siklus van kwaad te breek. Die keuse van die uitkoms is egter elke dag in ons hande. Moenie jou deur kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Gebed

Wanneer ons vandag die groot konflik situasies in die wêreld aanskou bring dit sterk emosies in ons na vore oor ons eie land en persoonlike lewe. Ons beleef die woede en frustrasie wat wil vergeld en daardeur pyn oor mense se lewens bring, wat dit verdien. Dit is so maklik om elke dag die vinger na buite te wys na die wat teen my oortree en wat ek die vyand noem. Ons wil dinge probeer regmaak deur te vergeld en dan is ons optrede nie veel anders as die van ons vyande nie. Die skielike besef dat ek in die situasie beide die slagoffer en oortreder is tref my diep. Help my om in die hartseer en verlies ons gemeenskaplike menswees raak te sien wat u lyding en sterwe vandag vir my uitwys en wat die siklus van kwaad breek.

AMEN.