Hierdie week fokus ons op die tema van Gebed. In die Bybel sien ons ’n klomp verskillende tipes gebede, wat ons kan help om ook in ons eie gebedslewe te verdiep. Die tipes gebede waaroor ons reflekteer is gerangskik in drie pare van twee, wat beteken dat die drie laaste baie soos die eerste drie klink, maar ons ’n bietjie dieper inlei. Vandag begin ons die basiese gedagte van gebed as ’n versoek. Daar is menigte voorbeelde in die Psalms, maar ons staan vandag stil by ’n voorbeeld uit die verhaal van Hanna, in 1 Samuel 1:10-11
1 Samuel 1:10-11
“Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”
Hanna bring ’n diep behoefte na die Here en vra vir God om vir haar ’n seun te gee. Sy maak selfs ’n belofte dat haar seun aan die Here gewy sal wees, omdat sy bewus is daarvan dat haar seun ’n geskenk van God is.
In tye van behoefte en verlange, is dit ‘n wonderlike ding om te weet dat ons na God kan draai met ons diepste begeertes en dat ons ons harte kan oopmaak aan Hom. Hy is ‘n liefdevolle Vader wat die behoeftes en begeertes van ons harte verstaan en ons uitnooi om daarmee na Hom te kom.
Ons weet ook dat nie alle versoeke wat ons in gebed rig, bewaarheid word nie, maar dit behoort ons nie te ontmoedig om ons harte oop te maak tot die Here nie. Partykeer voel ons skaam om te vra, maar Paulus maak dit duidelik dat ons ons harte met God kan deel in Filippense 4:6: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”
Hierdie week gaan ons nie afsluit met ’n gebed nie, maar elke dag gaan ons uitgenooi word om self tyd in gebed deur te bring.
Wat is dit wat jy vandag van die Here wil vra? Watter begeertes leef in jou hart? Neem ’n oomblik om in vrymoedigheid jou begeertes met die Here te deel.