Psalm 86:11-13. VERWAGTING.
Leer my U pad Here, ek wil wandel in U waarheid; leer my U met toewyding dien. Met my hele hart sal ek U prys, Here my God, U Naam altyd eer, want U liefde vir my was groot: uit die dieptes van die dood het U my gered.
Vandag se teksgedeelte hang nou saam met gister se gedagte. Alhoewel God op ‘n groot en dikwels onverstaanbare manier oor ‘n groter skepping heers, breek die realiteit van God altyd op ‘n eenvoudige en verstaanbare manier tot ons deur. Dit is oor hierdie ervaring wat Psalm 86 getuig en ons van bewus kom maak. Ek kan goed onthou hoe mense tydens die Covid 19- inperkings, toe almal in hulle huise vasgekeer was, skielik opnuut bewus geword het van die mooi van die natuur om hulle. Die weersomstandighede, die rustigheid in ons omgewing en die voël geluide is iets waaroor almal gepraat het. Die ironie is dat niks merkbaar in die natuur verander het nie. Dit was en is vandag nog elke dag daar vir ons om te ervaar en daaruit te leef. Dit verg net van ons om in ’n paar sekondes van elke dag ons bewussyn daaroor te verander sodat die realiteit daarvan vir ons oop breek. Psalm 86 bring ons op soortgelyke wyse by die realiteit van God se teenwoordigheid in ons hede uit. ’n Paar sekondes van fokus kan ‘n wêreldse verskil maak aan die dag wat vir ons voorlê. Dit begin met hierdie eenvoudige woorde wat in ons los kom:
Leer my U pad Here, ek wil wandel in U waarheid; leer my U met toewyding dien. Met my hele hart sal ek U prys, Here my God, U Naam altyd eer, want U liefde vir my was groot: uit die dieptes van die dood het U my gered.
Gebed
Here Jesus ek is klein
Maak Uself my lewe rein
Laat ek altyd van U leer
Laat ek groot word tot U eer
O Jesus neem my
O Jesus lei my
O Jesus sterk my
En vorm my tot u eer. Amen