Lees: Psalm 65
Teks: Psalm 65:12: U kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed!
GEDAGTE
Die 1953-vertaling stel vir my die vers so mooi. Ek lees dit graag vir jou: “U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid.” So aan die einde van die winter kan ons hart ontluik van dankbaarheid soos ’n pragtige lentebloeisel. Hoe dankbaar is jy oor God se goedheid en genade in jou lewe.
‘n Dankbare mens is ’n gelukkige mens en ’n gelukkige mens is ’n dankbare mens. Volgens die woordeboek het dankbaarheid met waardering te doen. Waardering vir wat jy het en wat jy ontvang het.
Dankbaarheid is ’n lewenshoudingsbesluit wat ons daagliks moet neem; dis die keuse wat ons elke dag maak. M.a.w. keuse tussen dankbaarheid en ondankbaarheid tussen negatiwiteit en positiwiteit . . . tussen misrabelheid en om gelukkig te wees. Een van die geheime van ’n gelukkige lewe is dankbaarheid ten spyte van ons omstandighede. As ek en jy dit kan regkry om met dankbaarheid te leef, verander dit die manier hoe ons na die wêreld kyk. Begin ons verby die dinge kyk wat die lewe vir ons moeilik maak en sien ons die seën wat ons het raak.
“Dankie” is ’n baie klein woordjie, maar dit beteken baie. Daarom is Meister Eickhardt se woorde so waar: “As ‘Dankie’ die enigste gebed is wat jy ooit bid, is dit genoeg.” As ons God dank vir Sy goedheid en guns, eer ons Hom. Deur vir God “dankie” te sê wys ons Hom dat ons alles waardeer wat Hy vir ons doen en vir wie Hy is. Dankbaarheid is dus nie maar net om die woordjie “dankie” van klein tyd af aan te leer nie. Dankbaarheid is meer as om net gou ‘n “dankie-gebedjie” te bid voor ete. Dankbaarheid is om ’n dankbare lewe voor God, te lei, want alles wat ek is en alles wat ek het kom uit sy genadige hand.
GEBED
Hemelse God en Vader baie dankie vir alles wat ek uit U Vaderhand ontvang. Amen