Gedagte vir die dag | Woensdag 30 Augustus 2023

 

Lees: Psalm 57

Teks: Psalm 57:2 Wees my genadig, o God! Wees my genadig, want by U soek ek skuiling. Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is.

GEDAGTE

Psalm 57 word weereens met ’n noodsituasie uit  Dawid se lewe verbind, dié keer met die gebeure toe hy vir Saul in die grot ingevlug het.

Op verskillende plekke in die Bybel word God die skuilplek van sy kinders genoem. “Die ewige God is ’n skuilplek en onder jou is sy ewige arms,” getuig Moses (Deut. 33:27). Die psalmdigter noem God ook op meer as een plek ’n “skuilplek”. “Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ’n skild,” belowe hy in Psalm 91:4.

God onderneem steeds om sy kinders te bewaar, om vir hulle ’n veilige wegkruipplek te wees in tye van beproewing en gevaar. En ons het mos almal so ’n skuilplek nodig – ’n plek van veiligheid waar ons altyd hulp kan kry. God wil vir jou ’n skuilplek wees, ’n rots om na toe te vlug. Hy stuur sy engele om jou te bewaar in gevaartye. Daarom kan jy die pragtige belofte in Psalm 32:10 in jou Bybel onderstreep: “. . . onfeilbare liefde omring húlle wat op die Here vertrou.”

(Hierdie is ’n uittreksel uit Here, hoor U my? deur Nina Smit)

GEBED

Tere God, sagte beskermer in tyd van nood,
deurbreek die duisternis van wanhoop
en gee aan ons, met al u mense,
die lied van vryheid en die jubeling van lof;
in Jesus Christus ons Here. (Gebed van Jaco Thom)