Gedagte vir die dag | Dinsdag 15 Augustus 2023

Efesiers 1:16. “Daarom moet ons vir ander vertel hoe wonderlik en groot God is en wat Hy alles vir ons gedoen het. Ons het niks verdien nie, maar God het dit verniet vir ons kom gee”

Ek dink baie van ons leef soms met ‘n gevoel dat ons nooit ons volle potensiaal as mens verwerklik het nie – dat ons lewe op ‘n bepaalde vlak ‘n verspeelde kans, of selfs ‘n vermorste geleentheid was. Ek dink hierdie gevoel van onvergenoegdheid kom lê in ons veral soos ons ouer word en tot die besef kom: my lewe gaan verby en ek het nog so min bereik, of verwesenlik.

Dit is veral swaar waar dit duidelik word dat omstandighede buite ons beheer ons soms verhoed het om ons ideale, drome en talente uit te leef. Dat die lewe ons soms teruggehou het.

Dit kan ’n mens laat voel asof jy beroof is van jou geluk en selfvertroue.

Onlangs het iemand my weer aan hierdie wysheid herinner wat ek dink ons hiermee kan help. Dit is dat ons moet aanvaar dat ons nooit ‘n middelpunt is, of kan wees nie – dat ons lewens nietig is, ‘n klein rat in ‘n veel groter proses as wat ons ooit kan peil of oorskou. En dat ons as gelowiges maar mag glo dat wat ons op aarde gegun word, selfs al misbruik ons dit, steeds genoeg is en dat ons moet dankbaar wees daarvoor.

Ook dat dié deel, soos die Bybel dit stel, wat ons gegun is, altyd ‘n gawe is waardeur ons ander positief kan bystaan en beïnvloed. Dis nooit te laat om vandag hiermee te begin nie. Selfs al voel dit hoe min en onbelangrik.

Prakties beteken dit: moenie koponderstebo leef nie. Kyk ‘n slag op, kyk rondom jou en sien raak hoe ryk en wonderlik die lewe is. En dat dit alles vandag aan jou behoort. En deur jou ook ander kan verryk.