Stellenberg-uitreik: ’n Uitreik is ’n onderstebo-ervaring

Deur: Ds. Marius Schoombie

Om op ’n Stellenberg-uitreik te gaan is ’n vreemde, onderstebo-ervaring. Jy gaan weg om in ’n gemeenskap te gaan bly waar jy meer tuis voel as by jou huis. Jy leer ken in ’n dag se tyd ’n hele gemeenskap se name en stories, gee drukkies en bid vir mekaar – waar jy in jare nie eers jou bure se name leer ken het nie.

Jy gaan om te gee, maar besef vinnig jy kry soveel meer as wat jy gee.

Jy gaan om kos uit te deel vir ander, maar besef dan hoe “honger” jy is.

Jy gaan om ander te omarm, maar besef dis jy wat omhels word.

Jy gaan om die las ligter te maak, maar jy besef jy dra net so swaar soos almal rondom jou.

Jy gaan om uit te reik, maar besef Iemand anders steek sy hand uit na jou.

Jy gaan om liedjies te sing, maar jy besef God se stem dawer reeds oor die vlaktes.

Jy gaan om ’n vreemdeling te ontmoet, maar jy besef jy word as ’n vriend verwelkom.

Jy gaan om die Here se naam te verkondig, maar jy besef vinnig jy hoor Hom eerder na jou roep.

Jy gaan omdat jy dink alles en almal is verskillend, maar jy besef ons is eintlik almal maar net dieselfde.

Jy gaan om brood te breek saam met vreemdelinge, maar besef daar is Iemand anders tussen julle wat die brood breek. Soos daardie twee mans op pad na Emmaus, gaan jou oë oop en jy ontmoet vir Jesus op die onwaarskynlikste plekke. In klein dorpies in die Karoo, in klein handjies wat so styf vashou aan joune, in klein gebare van liefde tussen mense – dáár ontmoet jy vir Jesus.

En jy besef: Geseënd is die wat treur . . . Jy besef jy is deel van ’n onderstebo-Koninkryk, waar die eerstes laaste is, waar die belangrikes dien, waar vreemdelinge nader as vriende is. Waar God teenwoordig is.

En dan gaan jy huis toe. Maar die huis lyk skielik vir jou anders. Soos Tolkien se Frodo op pad terug van ’n onvergeetlike reis, merk jy saam met hom op: “There is no real going back. Though I may come to the Shire, it will not seem the same; for I shall not be the same.”

Jy vra, hoe gaan ek terug in daardie wêreld in waar ek so gemaklik gevoel het, maar skielik nou so ontuis is? Dan besef jy: Daardie ontmoeting met Jesus in die Karoo het my verander. En Hy stuur jóú, ’n vreemdeling, onderstebo-mens, terug in daardie wêreld in. Om Hom ook dáár te gaan ontmoet.