Augustus is barmhartigheidsmaand

Deur: Ds. René Potgieter

Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word (Matteus 5:7).

WAT IS BARMHARTIGHEID?

Die Hebreeuse woord vir barmhartigheid beteken “deernis” – om in goedheid af te buig na ’n mindere; om guns aan ’n ander te bewys.

Gewoonlik dink ons aan twee dinge wanneer ons oor barmhartigheid praat: om mense wat dit nie verdien nie te vergewe, of om mense te help wat hulleself nie kan help nie. Maar barmhartigheid is veel meer as dit.  Wanneer ’n mens na die betekenis van barmhartigheid soek, sê die verklarende woordeboek dis “medelydend” of “met meegevoel”. Daarom is barmhartigheid nie net die gee van goed nie, maar ook die gesindheid en die wyse waarop ons ander mense behandel.  Dit verg dus ’n oop hart teenoor my naaste.

BARMHARTIGHEID BEGIN BY GOD

Wanneer God barmhartigheid teenoor ons bewys, dan gee Hy ook dit wat ons nie verdien nie. Ons verdien dit om vir ons sondes gestraf te word, maar dis nie wat God doen nie. In sy groot barmhartigheid het Hy egter ons straf op Jesus uitgestort toe Hy aan die kruis gehang het.

God se genade is om vir ons te gee, ook dit wat ons nié verdien nie. In hierdie geval is dit God se guns en sy seën. Ons vra Hom nie daarvoor nie en ons kan dit ook nie verdien nie. Hy gee dit vrylik aan ons. Hoekom? Want Hy is ’n God van liefde en genade, en barmhartigheid is ’n uitdrukking van sy liefde.

Barmhartigheid is een van God se eienskappe wat daarop dui dat Hy vol medelye, teerheid en vergifnis is. Jesus Christus bied barmhartigheid aan ons deur sy soenoffer en juis omdat God ’n God van barmhartigheid is, vra Hy sy kerk om ook barmhartig te wees.

BARMHARTIGHEID IS ’N OPDRAG AAN DIE KERK

Ons grootste probleem in die land is dalk nie geld, of die tekort aan elektrisiteit nie, maar dat ons te min van onsself vir mekaar gee.

Dr. Braam Hanekom skryf in een van sy artikels in die Kerkbode die volgende: “Ek glo daar is ’n veel groter krisis as die huidige elektrisiteitsramp in Suid-Afrika. Dit is die groeiende armoede, hooploosheid en letsels wat trauma op ons kinders laat. Ons moet eenvoudig beter doen. Tradisionele barmhartigheid is nie genoeg nie”.

Ek wil vir jou en ook vir myself die vraag afvra: “Is jy ’n barmhartige persoon?” Die meeste van ons sal antwoord: “Ek dink ek is barmhartig.  Ek probeer om na die beste van my vermoë met hulle wat ly te simpatiseer. Ek voel die pyn van my lydende broers en susters en probeer hulle help. Ek doen my bes om my bure in hulle nood te ondersteun. As mense my seermaak, vergewe ek hulle en koester nie ’n wrok teenoor hulle nie.” Ek glo dat alle ware Christene ’n mate van barmhartigheid toon teenoor hulle wat verlore gaan en diegene wat swaarkry.

Dr. Karl Menninger, die beroemde sielkundige, het eendag na sy lesing oor geestesgesondheid ’n vraag van iemand in die gehoor beantwoord. Die persoon wou weet watter raad hy aan iemand sou gee met ’n hoë risiko om ’n senuwee-ineenstorting te beleef? Die meeste het verwag dat hy sou sê so ’n persoon moet ’n sielkundige gaan sien, maar tot hulle verbasing het hy geantwoord: “Gaan na die onderdorp, vind iemand in nood, en doen iets om daardie persoon te help.”

Barmhartigheid, wanneer jy God se hart met iemand anders deel, is een van die wonderlikste dinge wat ’n mens aan daardie persoon, maar ook aan jouself kan bewys. Leef Lukas 6:36 uit: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is”. Barmhartigheid gebeur waar ons mense sien soos God hulle sien. Kyk met sagte oë na die mense om jou. Kyk na hulle soos God na hulle kyk en hanteer mense altyd met deernis, liefde en sorg.