Mannekamp ontsluit die waarde van stilte

Deur: Ds. Johan Visser

Wees stil en weet Ek is die Heer. Wees stil en weet Ek is. Wees stil en weet. Wees stil.

Wees . . .

Met bogenoemde woorde is 33 gemeentemanne binne die kapelruimte van die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum in Wellington ontvang. ’n Paar van die manne wat die kamp meegemaak het, deel hul ervaring van die naweek in ’n paar woorde.

Conrad Koort: Hierdie is meer as net ’n paar woorde. Dit spreek op soveel vlakke – na die moegheid en die gejaagdheid, die wat probeer en die wat voel hulle faal. Elkeen van ons is ’n klein kind wat rus kan vind by ons Hemelse Vader. En in die stilte by Hom gebeur daar iets majestieus.

Anton Gouws: Om af te sonder, rustig te raak, stil te raak en God te vertrou, is die praktiese lewensritme wat ons bewus maak van God se teenwoordigheid in ons midde. Die ritme om te verander, te vernuwe – die proses van heiligmaking. Dit is die boodskap wat ek huis toe gebring het en gaan toepas.

Low Bothma: Die afsonderingsgeleentheid die afgelope naweek het dit op my hart gelê om my verhouding met God meer te verinnig. Daarom my gebed: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die ewige pad.

Gerrit van Niekerk: My ervaring die naweek was dat dit al die geraas en gejaag verdryf het. Die baie vinnige lewe stadig genoeg gemaak het dat ek net kon besef dat ’n mens die stilte mis, die mooi natuur, jouself en God se teenwoordigheid. God is ín die stilte en as die wêreld se geraas en gejaag jou verdoof en verblind, kan ek nie God se teenwoordigheid ten volle ervaar nie.

Erhard Teubes: Wat ’n diep en ryk geestelike belewenis. Die misterie van God die Vader se werking binne ons, wanneer ons die alledaagse uitskuif, is baie soet en bevrydend. Vir my is dit die begin van ’n nuwe hoofstuk in my geestelike lewe.

Johan Visser: Ek is diep dankbaar om hierdie groep te kon begelei op hul geestelike reis in ’n fisiese ruimte wat my baie na die hart lê. Daarmee saam is ek ook dankbaar vir ds. Carel van Wyk, emeritus leraar, wat saam met ons kon reis en met behulp van sy doktorale studie oor hierdie onderwerp, gehelp het om die diepte van Christelike spiritualiteit te ontsluit. Mag ons as gemeente ’n verdieping beleef ten opsigte van spiritualiteit, en daardeur ruimtes van stilte, afsondering en gebed help skep. Mag ons vanuit hierdie oorpeinsing oorgaan tot aksie en gestuurdheid oor grense heen.

Die Kerkbode het onlangs ’n artikel oor hierdie besonderse ruimte van spiritualiteit, geplaas: Kom word met elke sintuig stil. Volg gerus hierdie skakel om dit te lees: https://kerkbode.christians.co.za/2023/07/27/spiritualiteit-kom-word-met-elke-sintuig-stil/

Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit is ’n gemeenskap van stilte, afsondering en gebed waar ons mekaar nooi om tot rus te kom en ons wortels in Christus te ontdek.