Kunsmatige intelligensie en Switserland

Foto: Dirk Brand is tweede van links op die foto en saam met hom is die res van sy spanlede, van links, Yasi Yousefi, Kholo Kugler, Emmie Hine, Pier Giorgio Chiara en Parisa Osivand.

Deur: Dr. Dirk Brand

In die land wat bekend is vir sjokolade en horlosies van die beste gehalte, het ’n unieke kompetisie in Julie plaasgevind, naamlik die St.Gallen Grand Challenge.  Die regulering van kunsmatige intelligensie (KI) is tans in die internasionale kollig. In die lig van die belangrikheid van beheer om etiese kunsmatige intelligensie deur paslike regulasies te verseker, het die Universiteit van St.Gallen in Switserland die First St.Gallen Grand Challenge aangebied.  Dit was ’n unieke geleentheid vir die ontwikkelaars van innoverende KI-toepassings om skouer te skuur met spanne deskundiges uit verskillende lande, wat hierdie toepassings moes meet aan die hand van die vereistes van die nuwe KI-wetgewing in die Europese Unie.  Hierdie wet kan heel moontlik die bloudruk wees vir ander lande om soortgelyke wetgewing te ontwikkel.

Ek is bevoorreg om lid en leier van ’n span van ses kundiges (die LegalAIzers) te wees wat saam met nog 11 spanne gekeur was om aan hierdie kompetisie deel te neem.  Ons is regtig ’n baie diverse span met lede uit Suid-Afrika, Kanada, Iran, die VSA, Switserland en Italië.  Ons het mekaar aanlyn ontmoet in antwoord op ’n uitnodiging van een van die spanlede om aan hierdie kompetisie deel te neem.  Dit was wonderlik om te sien, en dit later persoonlik te ervaar, hoe die span mekaar van meet af gevind en uitstekend saamgewerk het.

Die Switserse avontuur het begin met ’n sogenaamde boot camp wat by ’n Switserse Weermagterrein naby Genève aangebied is.  Daar het die spanne die eerste blootstelling aan verskillende KI-toepassings in robotte gekry – van ’n afleweringsrobot wat soos ’n hond op wiele lyk, tot ’n outomatiese laaigraaf.  Die boot camp was ook ‘n verwysing na ons verblyf in ’n ondergrondse bunker waar ons op stapelbeddens geslaap het.  Nou ja, dit was ’n ondervinding wat ’n bydrae tot  goeie spangees gemaak het.

Hierna het die werklike kompetisie in die pragtige ou stad St.Gallen aangebreek.  Die stad se wortels strek sover terug soos 671 toe ’n monnik genaamd Gallus hom daar gevestig het.  ’n Klooster is ongeveer 70 jaar later daar gebou en het die kern van die nuwe dorp St.Gallen geword, ’n plek wat later van groot belang sou wees vir die bewaring en transkripsie van antieke manuskripte, insluitende die Bybel.

Ons het almal bymekaargekom in ’n moderne sentrum, die Square, op die kampus van die Universiteit van St.Gallen.  ’n Baie vol program van tegnologie-aanbiedings en intense bespreking daarna oor die regsimplikasies van KI, het tot laat in die nag aangehou, toe ons nog geskryf het aan ons verslag.  Die volgende oggend vroeg is al die spanne se verslae elektronies ingedien en het die jurie van internasionale regsgeleerdes met hul beraadslaging begin.  So ook ons wagtyd vir die uitslae.  Kort voor middagete was al die spanne weer bymekaar in die Square en die president van die jurie maak die name van die twee finaliste bekend.  Die LegalAizers se naam word eerste uitgelees en ons is totaal oorstelp van vreugde.

In die finale ronde die namiddag het ons nog ’n nuwe KI-toepassing gesien en moes dit in ’n kort tydjie bespreek en ’n verslag voorberei, wat mondelings aangebied moes word.  Die jurie het weer ’n taai taak gehad.  Laatmiddag maak die president die jurie se beslissing bekend.  Hulle was baie beïndruk met die kwaliteit van die werk en kon nie kies tussen die twee topspanne nie.  Hy kondig dus aan dat ons die medewenners van die Grand Challenge is, saam met ’n span van Madrid, Spanje, en dus die prys deel.

Wat ’n ongelooflike ondervinding vir ons almal.  Dit was met ’n dankbare hart, steeds vol opgewondenheid, dat ek die volgende dag op die vliegtuig terug Kaap toe geklim het.

| Dirk Brand is leierouderling van die gemeente, onafhanklike regskonsultant en buitengewone senior lektor by die Universiteit van Stellenbosch.