Connect – met mekaar en jou Skepper

Deur: Anja Botha

By Stellenberg-gemeente se selgroep vir jong volwassenes Connect maak dit nie saak waar jy jou tans bevind nie, daar sal ’n plekkie vir jou wees. Ek is lid van die Connect-selgroep vir studente en jong volwassenes wat elke tweede Woensdag om 18:30 bymekaarkom. By hierdie byeenkomste is ’n mens gewaarborg om nuwe mense te ontmoet en sterk vriendskappe te sluit.  Jy kan verseker wees dat jy voor die amptelike verrigtinge afskop, geleentheid sal hê om met ’n koppie koffie in die hand lekker te lag en ander mense beter te leer ken.

Nadat ons die week se hoogte- en laagtepunte met mekaar gedeel het, lees ons ’n Bybelteks en dan sê elkeen wat vir hom/haar uitstaan, of waaroor jy wonder.  Jy is geregtig op jou eie opinie en jy word aangemoedig om jou mening te lug.  Dit gee aanleiding tot baie interessante geprekke en ek het self al baie geleer, veral oor hoe om vanuit ’n ander perspektief na dinge te kyk.

’n Selgroep is ’n plek of ruimte waar ’n mens gemeensaamheid bou, saam leer en meer oor die Here ontdek. Dit is ’n veilige plek waar ’n mens jou vrae, stories, en ontdekkings kan deel. Dit lei tot ongelooflike gesprekke wat deurentyd meer vrae ontlok en interessante redenasies onthul. Ek wil alle gelowiges aanmoedig om deel te word van ’n selgroep.  ’n Mens voel nie altyd in die middel van ’n besige week gretig om te gaan nie, maar jy stap wel altyd vol energie en “annibrand” vir die Here daar uit – gereed vir dit wat die res van die week mag oplewer.

Die Connect-selgroep bestaan uit ’n groep mense in hulle vroeë tot middeltwintigerjare, wat elke tweede Woensdag in die jeuglokaal bymekaarkom. Daar is ook twee ander selgroepe vir jong volwassenes van verskillende ouderdomme in verskillende lewensfases, waarby nuwe lede kan aansluit. Vir meer inligting, sluit aan by ons WhatsApp-groepe vir jong volwassenes deur die onderstaande QR-kode te skandeer, of kontak vir ds. Marius Schoombie by 083 635 1523.