Rigters 5:7. Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ‘n moeder in Israel na vore gekom het.
Refleksie
Hierdie versreël is deel van die lied van Debora, wat sy en Balak gesing het nadat Debora die Israeliete gered het. Die storie van Debora is een storie van vele in Rigters, van hoe God vir sy volk gesorg het in tye van oorlog en geweld. Dit gebeur so dikwels dat vroue in verhale op die agtergrond staan, maar Debora se verhaal maak dit duidelik dat vroue ’n sentrale rol in God se verhaal speel en dat vroue ’n legitieme plek as leiers van God se volk het.
Ons moet ook erken dat Debora se verhaal in die minderheid is en dat daar ’n klomp ander verhale in die Bybel en in die geskiedenis is, waar vroue nie dieselfde rol mag vervul nie. Daarom is dit so belangrik om die storie van Debora te vertel en te sien dat vroulike leiers nodig is, dat ons iets verloor wanneer die stemme van vroue stilgemaak word. Soos die lied van Debora ons ook vir vandag herinner: “Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan, totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ’n moeder in Israel na vore gekom het.”
Mag ons almal saamwerk aan ’n koninkryk waarin elkeen se waarde erken word en waar elkeen geleentheid het om hul Godgegewe gawes uit te leef.
Gebed
Here, ons erken dat die wêreld waarin ons leef nie altyd gelyk is nie. Ons is dankbaar vir die stories van vroue soos Debora wat ons help om die waardigheid in ander ook raak te sien – te sien dat elkeen ’n plek het as deel van U koninkryk. Here, maak ons oë oop vir die leiers tussen ons, help ons om te sien wanneer daar onreg gepleeg word en mag U, ook in en deur ons, ’n koninkryk vestig waarin elkeen se waarde erken en gevier word.
Amen