In hierdie week vier ons vrouedag. Daarom gaan ons hierdie week reflekteer oor die stories van verskillende vroue in die Bybel. Die eerste verhaal lees ons in Eksodus 1:15-17
Eksodus 1:15-17
15Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: 16“As julle ‘n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit ‘n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ‘n dogter is, mag sy bly lewe.” 17Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: hulle het die seuntjies laat lewe.
Refleksie
Wanneer ons die storie van die verlossing van Israel uit Egipte vertel, spring die naam van Moses heel eerste in ons gedagtes op. Maar ons moet nie vergeet dat Moses se storie vroeër begin nie, by twee Hebreeuse vroedvroue, Sifra en Pua, wat nie na ’n opdrag van die Egiptiese koning geluister het nie, maar die lewens van Hebreeuse seuntjies gered het. Dit is danksy hulle, dat Moses se storie kon aangaan.
Wat ons dikwels miskyk, in hierdie paar versies oor Sifra en Pua, is die omvang van hulle besluit. Hulle kies om ongehoorsaam te wees aan die hoogste gesag in Egipte en gehoorsaam te bly aan God. Dit was ’n gevaarlike besluit wat hulle lewens in gevaar kon stel. Hulle stel die lewens van klein kindertjies bo hulle eie lewens.
Wat dink jy sou jy in daardie situasie doen? Hoe maklik of moeilik dink jy sou daardie besluit vir jou wees?
Sifra en Pua kon onmoontlik weet dat hulle aksies tot die bevryding van Israel jare daarna sou lei – hulle motivering was eenvoudig om die lewens te red wat deur die ongeregtigheid van die Koning bedreig is. Die storie van Israel se bevryding uit slawerny, begin eenvoudig by twee vrou wat omgee vir mense in nood.
Waar sien jy nood rondom jou raak? Hoe dink jy roep die Here jou om om te gee vir mense in nood?
Gebed
Here, ons kyk so maklik vas in die groot dinge, maar ons vergeet dat U deur ’n klomp klein dingetjies, groot verskille kan maak. Dankie, dat ons die verhaal van Sifra en Pua mag hoor en vertel. Dankie, dat ons mag weet dat ons klein dade van omgee, tot groot verandering kan lei. Help ons om die nood om ons raak te sien en soos Sifra en Pua, om te gee vir dié wat in nood is.
Amen.