Filippense 3:10. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek ook self deel sal hê aan die opstanding van die dood.
Wat wens jy vandag? Ons wens dat beurtkrag tot ‘n einde sal kom, dat die brandstofpryse sal daal en die wisselkoers sal verbeter. Die woord ‘wens’ word dikwels in ons taal gebruik om ‘n gedagte uit te druk wat waarskynlik nie gaan realiseer nie. Die gedagte wat Paulus hier uitspreek is anders. Hy was baie realisties oor die loop van die lewe en oortuig dat die seerkry en lyding wat ons moet verduur nie die laaste sê het oor ons lewens nie. Die opstanding van Christus was vir hom meer as net iets wat eers eendag in sy lewe gaan realiseer wanneer hy tot sterwe sou kom. Elke keer wanneer hy swaarkry en lyding beleef het, het hy reeds die krag en die hoop van die Here se opstanding geleef. Hy het beleef dat niks wat met hom in die lewe gebeur hom van God se liefde en genade kon skei nie – dit het juis in hierdie tye tot hom deurgedring. Ons eie geloof is nie net op ‘n wens gebaseer nie, maar op gebeure van die verlede waarin die krag van die Here se opstanding ons in situasies van doodsheid kom opwek het. Liefde en genade is nie net godsdienstige gedagtes nie, maar maniere waarop die Here prakties deur mense en omstandighede nuwe lewe in ons laat blom. Dit gee ons die hoop en geloof dat ons enige iets wat vandag oor ons pad kom sal kan hanteer asook dit wat sleg en moeilik is sal kan omdraai.
Gebed
Here, ek bid dat ek sal aanhou bid nadat ek amen gesê het. Ek bid dat ek U sal sien wanneer my oë oop is. Ek bid dat ek U sal proe in my oggendkoffie en laataandtee. Ek bid dat ek U sal hoor in die wekkers en sirenes en die mense wat lag. Ek bid dat ek U in die draai van my maag sal voel wanneer so baie kinders huil. Ek bid dat ek U sal beleef in elke heilige sekonde van hierdie gewone dag.
Amen.