Filippense 3:4,7. Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.
Wat beteken dit vir ons om vandag te kan bely dat om Christus te ken, alles in waarde oortref? Soos wat ons ouer word ontdek ons vaardighede, ons verdiep ons kennis van hoe dinge in die lewe werk, ons bou ‘n lewe en vermeerder ons bates en daar is soveel meer wat ’n mens nog hierby kan voeg. Deur dit alles weerklink die besef dat ons gebonde is aan tyd en dat alles wat ons het net tydelik is. Dit is ’n skrikwekkende gedagte. Dit laat ons vasklou aan dit wat ons het en maak in ons die vrees van verlies wakker. Paulus praat vanoggend met ons oor die vrede om dit alles in die hande van die Here oor te gee. Alles wat ons in die lewe ontvang is ‘n gawe van God. In elke nuwe lewensfase word ons deur God geseën met nuwe lewenservaringe. Dit het tot gevolg dat ons nie aan uiterlike dinge vasklou nie, maar God vertrou vir die nuwe en onbekende wat nog op ons wag. Voor watter transisie in die lewe staan jy? Hoe help jou geloof jou om van die ou bekende afstand te doen en nuwe geleenthede wat op jou wag aan te gryp?
Gebed
O Heilige Gees van God, bly by my, wees die inspirasie vir al my gedagtes vandag, deurdring my verbeelding en suggereer wat ek moet besluit, bestuur my aksies. Help my in die veranderinge en oorgange wat ek in die lewe moet maak. Daar is soveel wonderlike oomblikke en herinneringe wat ek oor die verlede koester. Ek glo vandag dat die nuwe lewensfase waarvoor ek staan ook nog soveel van U seën gaan inhou. Ek wil daarom nie net vasklou aan wat ek het en wat bekend is nie, maar U die geleentheid gee om my ‘n nuwe stuk lewe te laat ontdek. Om U vandag te ken Here, oortref alles in waarde.
Amen.