Gedagte vir die dag | Maandag 24 Julie 2023

 

Die volgende paar dae gaan ons by ’n paar vroue van die Bybel kuier. Kom reis saam met my en hoor wat die Here ook deur hulle verhale vir ons wil leer.

Genesis 16:3  Abram was al tien jaar in Kanaän toe Sarai, die vrou van Abram, self vir Hagar, haar Egiptiese slavin, gevat en vir haar man Abram as vrou gegee het.

GEDAGTE

Iemand het eenkeer gesê: “Agter elke uitmuntende man is daar ’n uitmuntende vrou”.  So ’n vrou was Sara. Deur Abraham en Sara het God vir Hom ’n volk bymekaar gemaak. Sy het haar man na Kanaan, Egipte en weer terug na Kanaan gevolg. Sy het hom ondersteun in sy uitdagende rol as leier van die volk.

Sara was egter onvrugbaar en kon nie kinders hê nie. Vir mense van Sara se tyd was dit ’n skande vir ’n vrou om kinderloos te wees. Daarom neem sy die drastiese stap om Hagar as “vrou” vir haar man te gee. In daardie tyd was dit ‘n algemene gebruik onder die Galdeërs waarvandaan hulle gekom het.  Alhoewel dit nie God se plan vir Sara en Abraham was nie. Toe Hagar swanger raak het sy daarmee met by Sara begin spog en die gevolg daarvan was dat Sara haar sleg begin behandel het en Hagar uiteindelik gevlug het.

Maar God se belofte aan Abraham en Sara vir kinders het bly staan. Alhoewel Abraham en Sara al oud was, was dit steeds moontlik vir God om vir hulle kinders te gee. Onverwags ontvang Abraham en Sara drie besoekers en die besoekers bring aan hulle die boodskap dat Sara oor ’n jaar ‘n seun sal hê. God het ’n vasgestelde tyd bepaal waarop Isak gebore sou word. God doen wat Hy belowe het en Isak word gebore.

Uit Sara se verhaal kan ons leer van God se getrouheid. Dit wat Hy belowe het, voer Hy uit. Jy kan ook vandag hierdie belofte van God neem dat Hy jou nooit sal verlaat nie en saam met jou deur die lewe reis.

GEBED

Hemelse God en Vader. Dankie dat ek deur die verhaal van Sara weer bewus kan word van U getrouheid.  Amen