Gedagte vir die dag | Saterdag 22 Julie 2023

Vandag is Saterdag 22 Julie en ons dink die week ’n bietjie na oor ons gebedslewe. Hierdie komende naweek wat voorlê is ons meer as 30 mans wat tyd saam gaan spandeer by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum in Wellington. Die sentrum van spiritualiteit is ’n gemeenskap van stilte, afsondering en gebed waar ons mekaar nooi om tot rus te kom en ons wortels in Christus te ontdek. Ons gaan hierdie week elke oggend ons refleksie oor gebed begin met die volgende aanhaling en uitnodiging van Andrew Murray:

“May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence. And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and his Love”.

Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:

  • Hoe sal jy God se teenwoordigheid beskryf in jou lewe?
  • Waarna toe nooi die Gees van God jou uit?

Kom ons luister na Rom 8:26-27 “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges”.

Die dissipels het Jesus dikwels gesien en gehoor bid. Hulle het waarskynlik gereeld gevoel hoe gebrekkig en tekort hulle skied ten opsigte van hulle kennis oor gebed. Ons almal weet hoe dit voel wanneer ons woorde opdroog tydens gebed . . .wanneer ons woorde ons ontgaan. Die dissipels het wel vas geglo dat Hy hulle kon leer om voortdurend, kragtig en opreg te bid soos Hy dit gedoen het. Laat ons, ons saam met die dissipels in die skool van gebed kom neerlê by die voete van Jesus. Andrew Murray bid . . . laat die stille, ootmoedige gebed gedurig uit ons hart opgaan. Here, leer my bid! Die Here kan ons deur Sy Gees voorsien van alles wat ons nodig het om te bid. Hy kan ons hart verlig sodat ons kan verstaan wat nog in ons duister is. Hy kan die begeerte en die drang vir gebed by ons opwek en wakker maak. Hy kan ons geloof versterk en gee ons die vrymoedigheid om kragtig te bid. Vanuit die hemel kan Hy, deur Sy Gees, Sy eie gebedslus in ons harte opwek.

Gebed van Andrew Murray: Here Jesus, leer my verstaan dat net soos U omgang met die Vader in die gebed, die heerlikste herinnering van U lewe op aarde was, U my ook wil leer hoe om tot Hom te nader en met Hom om te gaan. Here Jesus, ek vertrou op U. Ek bid U, wek tog in my hart die lus en krag tot die gebed. Amen.