Gedagte vir die dag | Donderdag 20 Julie 2023

Vandag is Donderdag 20 Julie en ons dink die week ’n bietjie na oor ons gebedslewe. Hierdie komende naweek wat voorlê is ons meer as 30 mans wat tyd saam gaan spandeer by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum in Wellington. Die sentrum van spiritualiteit is ’n gemeenskap van stilte, afsondering en gebed waar ons mekaar nooi om tot rus te kom en ons wortels in Christus te ontdek. Ons gaan hierdie week elke oggend ons refleksie oor gebed begin met die volgende aanhaling en uitnodiging van Andrew Murray:

“May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence. And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and his Love”.

Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:

  • Hoe sal jy God se teenwoordigheid in jou lewe beskryf?
  • Waarna toe nooi die Gees van God jou uit?

Kom ons luister na Matt 6:6 se 1953 vertaling: “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is”. 1983: “Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie”.

Die mense was geskape vir gemeenskap met God. God het hom gemaak na Sy eie beeld en gelykenis sodat hy daartoe in staat kan wees, bekwaam om God te verstaan en te geniet, om hom in sy heerlikheid te verlustig. Andrew Murray sal sê dat niks anders as hierdie gemeenskap, die hart van God, of van die mens kan bevredig nie. Vriende ons Here leer ons dat dit die innerlike geheim is van verborge gebed . . . Sluit jou deur en bid tot jou Vader wat in die verborge sien. Ons moet weet dat God sien en hoor. Wat ’n voorreg om so die aangesig van die Here aan te roep. Bid vanoggend vir die volgende sake: jou eie geestelike groei, jou familie, jou gemeente, sendelinge, sendingaksies of organisasies, herlewing, ens.

Gebed: Here, U is die EEN wat alles sien en hoor. Help ons om na die binnekamer van ons hart te gaan. Amen.