Gedagte vir die dag | Woensdag 19 Julie 2023

Vandag is Woensdag 19 Julie en ons dink die week ’n bietjie na oor ons gebedslewe. Hierdie komende naweek wat voorlê is ons meer as 30 mans wat tyd saam gaan spandeer by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum in Wellington. Die sentrum van spiritualiteit is ’n gemeenskap van stilte, afsondering en gebed waar ons mekaar nooi om tot rus te kom en ons wortels in Christus te ontdek. Ons gaan hierdie week elke oggend ons refleksie oor gebed begin met die volgende aanhaling en uitnodiging van Andrew Murray:

“May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence. And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and his Love”.

Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:

  • Hoe sal jy God se teenwoordigheid beskryf in jou lewe?
  • Waarna toe nooi die Gees van God jou uit?

Kom ons luister na Ps 5:4 in die (1933) vertaling as ook die (1983) weergawe: “In die môre, Here, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag” & 1983 vertaling: “U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.

Van die vroegste tye af het die diensknegte van God die môre-uur beskou as uitnemend geskik vir die aanbidding van God. Nou nog word dit deur alle Christene beskou as ’n plig sowel as ’n voorreg om ’n gedeelte van die begin van die dag te wy aan die opsoek van afsondering en gemeenskap met God. Andrew Murray skryf in sy versamelde werke die volgende oor die gebedslewe: “Die môrewake is die sleutel tot die toestand waarin die oorgawe aan Christus en die Heilge Gees ten volle en ten alle tye kan gehandhaaf word”. Luister weer na ons vers vanoggend: “In die môre, Here, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag”. Sjoe, dit is so mooi! Laat hoor dus jou stem vanoggend en lê dit aan die Here voor in afwagting.

Gebed: Here, hoor en ontvang ons gebede. Dankie dat ons deur die dag in afwagting kan leef met U heilige teenwoordigheid. Amen.