Vandag is Dinsdag 18 Julie en ons dink die week ’n bietjie na oor ons gebedslewe. Hierdie komende naweek wat voorlê is ons meer as 30 mans wat tyd saam gaan spandeer by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum in Wellington. Die sentrum van spiritualiteit is ’n gemeenskap van stilte, afsondering en gebed waar ons mekaar nooi om tot rus te kom en ons wortels in Christus te ontdek. Ons gaan hierdie week elke oggend ons refleksie oor gebed begin met die volgende aanhaling en uitnodiging van Andrew Murray:
“May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence. And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and his Love”.
Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:
- Hoe sal jy God se teenwoordigheid beskryf in jou lewe?
- Waarna toe nooi die Gees van God jou uit?
Kom ons luister na Kol 4:2-4: “Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar en bid tegelykertyd ook vir ons. Bid dat God vir ons ‘n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig waarvoor ek hier gevange sit. Bid dat ek dit duidelik sal verkondig soos dit my opgelê is”.
In gister se teksgedeelte vertel die apostel vir ons hoe ernstig en gedurig hy vir die gemeente en die wat aan sy sorg toevertrou was, gebid het. Dit moet julle van ons as Stellenberg se leraarspan ook weet – dat ons vir julle as gemeente bid. In die bogenoemde teks is die uitnodiging om te volhard in gebed deur waaksaamheid en dankbaarheid. Die uitnodiging is nou weer aan julle gerig om vir ons as leraarspan en geestelike leiers te bid. Hudson Taylor het by geleentheid gesê: “Jy kan werk sonder om te bid, maar dit is ’n slegte plan. Jy sal egter nooit ernstig kan bid sonder om te werk nie”. Jy sien werk kan nooit deur gebed vervang word nie, maar gebed kan ook nooit deur werk vervang word nie. Die geestelike wet wat universeel geld is: Eers bid, dan werk.
Gebed: Here, ons bid vir mekaar en ons geestelike leiers. Maak U Woord van geheimenis aan ons bekend. Amen.