Gedagte vir die dag | Maandag 17 Julie 2023

 

Vandag is Maandag 17 Julie en ons dink die week ’n bietjie na oor ons gebedslewe. Hierdie komende naweek wat voorlê is ons meer as 30 mans wat tyd saam gaan spandeer by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum in Wellington. Die sentrum van spiritualiteit is ’n gemeenskap van stilte, afsondering en gebed waar ons mekaar nooi om tot rus te kom en ons wortels in Christus te ontdek. Ons gaan hierdie week elke oggend ons refleksie oor gebed begin met die volgende aanhaling en uitnodiging van Andrew Murray:

“May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence. And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and his Love”.

Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:

  • Hoe sal jy God se teenwoordigheid beskryf in jou lewe?
  • Waarna toe nooi die Gees van God jou uit?

Kom ons luister na Kol 1:9-11: “Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard”.

Waarom moet ons bid, sou ons kon vra? Die ding is dat gebed God se idee is. Dit is God wat ons uitnooi, aanmoedig en oproep om te bid. Deur gebed groei ek in my verhouding met God. Deur gebed verstaan ek die hart van God. God, in sy almag en soewereiniteit het gekies om mense se gebede te gebruik om verandering, genesing en redding in die wêreld te bring. Die Heilige Gees bid binne-in ons en God deursoek die hart. Hy ken die bedoeling van die Gees. Mag jy ruimtes en tye vind waar jy net stil by Hom sit en luister wat Hy vir jou wil sê. Dit is binne hierdie verhouding dat jy jou lewe met God deel en waar God Homself en sy wil aan jou openbaar.

Gebed: Here, help ons in wysheid en insig wat die Gees gee, sodat ons U wil duidelik sal ken, sodat ons tot eer van U Naam sal lewe. Amen.