Psalm 28:9. 9. Red u volk en seën dié wat aan U behoort; wees vir hulle ‘n herder en sorg altyd vir hulle.
Refleksie
Die woord red, in die Bybel is altyd vir my ’n interessante woord. Dit is ’n goeie ding om te bid dat die Here ons moet red, maar die woord red, getuig dat ons redding nodig het, dat ons in die moeilikheid is. Dit is die realiteit in Psalm 28. Dit is duidelik dat die volk redding nodig het. As ons rondom ons kyk, dan sien ons dit is ook vandag ’n realiteit. Daar is ’n klomp uitdagings in ons samelewing – in die wêreld, maar spesifiek in Suid-Afrika. Hoe gereeld dink jy bid mense nog vir ons land? Of kla ons maar net oor ons lot? Psalm 28 herinner ons om in tye van krisis ons harte oop te maak tot God.
Mag ons aanhou om saam met die Psalmdigter hierdie gebed te bid vir ons land. Dra vandag in besonder ons land en die mense in ons land aan die Here op.
Bid saam die woorde van Psalm 28:9
Gebed
Here, red u volk en seën dié wat aan U behoort;
wees vir hulle ‘n herder
en sorg altyd vir hulle.
Amen