2 Tessalonisense 1:11. Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.
Refleksie
Die manier wat Paulus oor gebed praat laat my dink dat daar meer aan gebed is as net woorde. Wanneer Paulus sê ons bid altyd vir julle, dan beteken dit nie dat hulle elke oomblik van elke dag bid nie. Dit beteken ook nie noodwendig dat elke keer wat Paulus bid, hy uitdruklik vir hierdie mense bid nie. Dit is asof gebed ook dieper in Paulus se hart leef, dit maak nie saak waar hy is, of wat hy doen nie, hy is in gebed verbind aan hierdie en ander gelowiges.
Hoe dink jy oor gebed? Het jy al ooit gedink dat gebed iets is wat dieper as woorde leef? Iets wat jou aan ander verbind, diep in jou onderbewussyn?
Paulus bid dat God aktief sal wees in die lewens van hierdie nuwe Christene in Tessalonika. Hy bevestig dat die Here ’n roeping het vir ons elkeen, maar hy bevestig ook dat dit nie net van ons afhang om te leef of te streef tot die verwagting van hierdie roeping nie – die Een wat ons laat slaag in ons roeping is God, nie onsself nie. Die gebed haal die druk so ’n bietjie van ons skouers af. Ons en die wêreld plaas so maklik swaar verwagtinge op ons skouers en die idee om suksesvol te wees ten opsigte van die verwagtinge, bring spanning mee. Paulus herinner ons dat ons roeping nie van ons self afhang nie, maar dat ons net kan vertrou dat God ons waardig maak om ons roeping uit te leef.
Hoe voel jy vandag ten opsigte van jou roeping? Deel dit vandag met die Here.
Mag God, deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.
Gebed
Here, mag hierdie gebed diep in my hart leef, dieper as woorde en langer as net hierdie oomblik. Mag my lewe ’n lewende gebed word, waar ek ander gelowiges in my hart dra. Dankie, dat ek mag weet dat U my vir my roeping waardig maak. Vorm my na U wil en tot opbou van U Koninkryk. Amen.