Gedagte vir die dag | Saterdag 24 Junie 2023

Psalm 118:24. 24Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

GEDAGTE

’n Predikant het eenmaal ’n reeks boodskappe op ’n ander dorp gaan bring. Hy het by ’n weduwee tuis gegaan. Sy het die gewoonte gehad om haar eie slaapkamer aan die gas te gee. Hy het die Saterdagaand gearriveer en die volgende môre toe hy die gordyne ooptrek sien hy die wonderlike landskappe met heuwels in die agtergrond en pragtige groen valleie voor hom. Daar was wel iets wat sy aandag getrek het en dit was in die hoek van die ruit was daar ’n sin uitgekrap. Die prediker het net die woorde “DIT IS DIE DAG” uitgemaak. By die etenstafel het hy die weduwee gevra na die woorde op die ruit en of dit haar kleinkinders is wat dit daar uitgekrap het. “Nee”, was haar antwoord.  Die woorde op die ruit het sy met haar verloofring uitgekrap. Sien die saak staan so: baie jare gelede het sy haar man aan die dood afgestaan en wanneer sy die gordyne oopmaak was dit dikwels baie koud en dit het gereën. Sy was dan so mismoedig en depressief dat sy net niks wou doen nie. Sy het gevoel die doel van haar lewe was verby.

Op een so ’n oggend het die Here met haar gepraat toe sy in die Bybel uit Psalm 118:24 lees: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.” Die Here het haar herinner dat God ’n plan met haar lewe het. Van daardie dag af het sy besluit dat wanneer sy die gordyne oopmaak en die nuwe dag aanskou, met hetsy sonskyn of reën, sy die dag met oorgawe sal aanpak omdat elke dag aan die Here behoort.

Ons moet ook elke dag positief aanpak. Die Here het dit gemaak en ons moet na die beste van ons vermoë lewe om die Here te eer. Elke dag is ’n geskenk van God.

GEBED

Dankie Here vir nog ’n dag.

’n Geskenk uit die Vader se Hand.

Laat ons besef hoe kosbaar elke dag is,

en dat ons sal lewe om U Naam te Verheerlik.

Amen