Gedagte vir die dag | Donderdag 22 Junie 2023

Matteus 14:14. 14Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.

 GEDAGTE

Ons lees heel dikwels in die evangelies die volgende sin: “Jesus het hulle innig jammer gekry.” Elke keer wanneer mens dit lees, word dit gevolg deur Jesus wat aktief optree en iets dóén vir diegene vir wie hy innig jammer voel. Hy het hulle gesond gemaak, kos gegee, hulle oë oopgemaak, hulle rein gemaak, hulle geleer en hulle getroos. Jesus betoon medelye en barmhartigheid oral waar Hy gaan en sy medelye gaan oor tot optrede en hulpverlening. Jesus het ’n hart wat luister, ’n hart wat omgee en ’n hart wat lief het. Ons sien dit in elke ding wat Hy ooit gedoen het – sy geboorte,  sy bediening,  sy lyding, sy kruisdood, sy opstanding en selfs sy hemelvaart, want Hy tree vir ons elke oomblik van elke dag in. Sy gebede word in die hart van die hemel gehoor, en dáár wys Hy steeds dat Hy vir ons omgee, trouens dat Hy vir al die mense op hierdie aarde omgee.

As volgelinge van die Here behoort ons ook dié wat rigtingloos, honger, eensaam, verwerp, siek, swak en hulpeloos is innig jammer kry en behoort dit ons aan te spoor om ons jammerte in dade om te skakel.

GEBED

Hemelse God en Vader. Dankie dat Jesus vir ons almal  omgee. Help my om ook raak te sien hulle vir wie ek moet help en ‘n hand uitsteek. Amen