Johannes 18:36 36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
GEDAGTE
Voor Jesus se geboorte het die volk Israel reeds vir eeue na die koms van die beloofde Messias uitgesien. Hy sou die een wees wat hulle van die Romeinse oorheersing verlos en Israel weer ophef tot sy glorie van ouds. Met Jesus se intog in Jerusalem bereik die Jode se verwagting ’n hoogtepunt. Almal juig Jesus lof toe en wil Hom Koning maak. Hulle verstaan glad nie dat die koninkryk waarvan Jesus praat nie ’n aardse koninkryk is nie, maar ’n geestelike een en dat dit nie ’n glorieryke oorwinning oor die Romeinse regering insluit nie. Die Jode is so verontwaardig, wanneer hulle hierdie feite uiteindelik snap, dat hulle Jesus totaal verwerp en Hom laat kruisig omdat Hy nie aan hulle verwagtings voldoen nie.
Tydens sy verhoor vra Pilatus vir Jesus of Hy wel ’n Koning is, waarop Jesus bevestigend antwoord. Maar sy koninkryk is anders. Volgelinge van Jesus se koninkryk moet twee eienskappe hê, naamlik liefde en nederigheid. Die koninkryk waarvan Jesus praat, is ’n koninkryk wat van mense vra om hullself te verloën, hulle kruis op te tel en Hom te volg. ’n Koninkryk waar vyande liefgehê word.
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat Jesus vir ons kom bekendstel het aan ‘n nuwe soort koninkryk. Help my om getrou deel te wees van hierdie koninkryk. Amen