Hebreërs 12:1. Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.
Daar is vandag skielik net soveel dinge wat ons bekommerd maak oor ons hede en toekoms. Die finansiële, politieke en sosiale realiteite van ons land bring oral spanning tussen mense mee. En dan is daar ook allerhande ander bekommernisse rakende jou gesin en familie wat op een of ander manier aanhaak by hierdie groter gebeure. Ons geloof en kerk kan maklik ‘n veilige plek van skuiling word waar ons van die realiteite van die wêreld om ons probeer wegvlug. Ons teks bring ‘n ander perspektief. Ons geloof wat ons met mekaar deel, inspireer ons om groot uitdagings te kan hanteer. Mag hierdie perspektief vandag weer vir jou van waarde wees waar ‘n paar slaggate dalk vandag weer op jou wag en ons gedagtes so maklik verstrik kan raak in die wanhoop en moedeloosheid.
Gebed
Here, u goedheid is vandag groter as die grootste boosheid, u liefde is sterker as al die haat in ons land; u lig skyn helderder as die donker in ons harte. U het op aarde kom lewe om die dood te oorwin. Daarom is ons meer as oorwinnaars deur U wat ons liefhet. En daarom gaan ons sonder vrees en met ‘n groot verwagting hierdie dag saam met ander in.
Amen.