Hebreërs 11:1. Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Hierdie definisie van geloof in Hebreërs is vir ons uitdagend. Hoe kan ‘n mens dan in iets glo wat jy nie kan sien nie? En hoe kry ‘n mens dit reg om dag vir dag op so ‘n manier aan te hou? Gaan ons nie dalk op een of ander stadium op ‘n plek kom wat geloof ons ontnugter en ons sal moet erken dat dinge baie anders uitgewerk het as wat ons geglo het nie? Die probleem is dat ons dikwels geloof aan uitkomste wat ons verwag, koppel. Daar is altyd ‘n baie goeie kans dat dinge nie gaan uitwerk soos ons bereken en gehoop het nie. Die geloof waaroor Hebreërs praat is anders, omdat dit nie aan uitkomste gekoppel is nie, maar aan God self. Ons glo in God! Dit is Hy wat ons denke en emosies omvorm en wat ons by sekere insigte uitbring. Dit is Hy wat deur sy Gees ons oortuig van foute en in ons die vrede van vergifnis en versoening bring. Dit is Hy wat dit wat gebreek, stukkend en seer is weer kan regmaak. Geloof is die uitwerking van al hierdie dinge wat God in ons lewens kom doen. Die effek wat dit op ons het is dat dit ons seker maak van die hoop wat die Here in ons bring en van dinge wat ons nie kan sien nie. Geloof is nie ‘n menslike kwaliteit nie – dis ‘n geskenk wat God ons gee en waardeur God ons vorm, soos wat sy Gees daagliks met ons saamleef.
Gebed
Wie is God soos U? U vergewe sonde. . . bly nie vir altyd kwaad nie. U betoon liefde. U sal ons weer genade betoon. U sal ons sonde totniet maak. U sal ons sondes in die diepsee gooi. U sal getrou wees . . . soos U beloof het. Dankie dat U die een is wat in ons die geloof kom wek om met krag hierdie onsekere dag in te gaan.