Hebreërs 6:1-3. Laat ons dus nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap.
Gelowiges was baie verward toe die beloofde wederkoms van Christus nie gerealiseer het soos verwag is nie. Die eerste generasie gelowiges en hulle leiers het uitgesterf en ‘n geslag agtergelaat wat nie Jesus met hulle eie oë gesien en met hulle eie ore gehoor het nie. Die brief aan die Hebreërs was aan so ‘n tweede generasie geskryf om hulle te oortuig dat God hulle nie agterweë gelaat het nie. Hulle moes dus nie probeer om op die vorige generasies se getuienisse voort te bou nie, maar moes self onder die indruk kom van God se teenwoordigheid by hulle in hierdie nuwe omstandighede. Ons staan vandag voor dieselfde uitdaging. Die oorgrote meerderheid van ons is vandag Christene omdat ons voorouers daarvoor gekies het. Laat ons ook dus nie stilstaan by die dinge wat deur hulle aan ons verkondig is nie, maar vandag geïnspireer word om die betekenis van God in ons hede oop te sluit. Om vandag ‘n Christen genoem te wees beteken dat ons dit nie gelate aanvaar nie, maar om vir ‘n styl van lewe te kies wat voortdurend bewus is dat God met ons in die lewe saamloop om die lewe voor ons oop te sluit.
Gebed
Here, wanneer ons uit die Bybel lees kyk ons verlangend terug na ‘n tyd toe U in die midde van mense se lewens ’n verskyning gemaak het om hulle lewens aan te raak. En te midde van die geloof wat ons bely, verloor ons perspektief dat U in die midde van ons eie wêreld ons tot soortgelyke ontmoetings lei. Dankie dat U vandag my op hierdie manier kom ontmoet. Amen.