Gedagte vir die dag | Saterdag 3 Junie 2023

1 Kor. 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie?

Refleksie

Ons is al so bekend met hierdie woorde, dat ons maklik iets van die gewig van Paulus se woorde aan die gemeente in Korinte kan verloor. Vir mense wat vir duisende jare, generasie na generasie, grootgeword het met die gedagte dat die Tempel die Heiligste plek op aarde is, so heilig dat net een persoon, een keer per jaar in die allerheiligste mag ingaan, sou hierdie woorde van Paulus amper onverstaanbaar wees. Hoe kan ons die tempel van God wees?

Maar dit is juis die betekenis van die uitstorting van die Heilige Gees. God se woning is nie in ’n gebou nie, maar in mense. Mense soos ek en jy.

Julle is ’n tempel van God, die Gees van God woon in julle.

Waar mense voorheen na die tempel gekom het om God te ontmoet, is julle nou die ontmoetingsplek van God. Julle is die plek waar die Gees teenwoordig is en waar ander God se teenwoordigheid beleef.

Wat beteken hierdie woorde vir jou, as jy hoor dat die Gees in jou woon? As jy hoor dat jy die Heilige Grond is waar ander mense vir God ontmoet?

Hierdie woorde van Paulus is verseker waar vir ons as individue – vir elkeen van ons wat die Heilige Gees in ons het. Maar dit is ook opmerklik dat Paulus juis die woord ‘julle’ gebruik, asof daar iets gebeur wanneer ons saamkom. Dit is asof Paulus dit wil duidelik maak dat ons nie op ons eie kerk kan wees nie, maar dat ons saam God se tempel is. Dat die gemeenskap van gelowiges ’n plek is waar mense vir God ontmoet, omdat die Gees teenwoordig is. Dalk vra dit van ons om op te let hoe ons mekaar hanteer. In die manier wat ons mekaar hanteer, moet dit duidelik word dat God teenwoordig is.

Dalk is ’n goeie begin om net onsself weer aan hierdie woorde te herinner, voordat ons optree. Herhaal vandag eenvoudig hierdie woorde, voor jy enige keuse maak:

Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie?

Gebed

Here, ons kan nie verstaan hoe die Skepper van die Heelal, die Allerheiligste, in ons kan woon nie. Help ons om al hoe meer bewus te word daarvan dat U teenwoordig is in ons en in ander. Mag ons leer om mekaar so te hanteer dat ander kan sien dat U teenwoordig is, dat ons die Heilige grond word waar ander U ontmoet.

Amen