Gedagte vir die dag | Vrydag 2 Junie 2023

Rom 8:26. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.

Refleksie

Paulus maak dit duidelik in Romeine 8 dat die teenwoordigheid van die Heilige Gees nie noodwendig al ons probleme oplos, of al die seer van die wêreld wegvat nie. Inteendeel, die vroegste gelowiges was amper van swaarkry verseker. In hierdie wêreld gaan ons swaar kry, ons gaan pyn ervaar. Die belofte van die Heilige Gees is egter dít: dat God ons nooit alleen laat, of oorlaat aan die seer van die wêreld nie. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by, wanneer ons voel asof ons geen meer krag het nie.

Daar is tye in die lewe waar dit voel of ons nie meer woorde het nie, asof ons nie meer weet wat om te bid nie, omdat die lewe te swaar op ons druk. In tye soos hierdie gee hierdie versie vir ons groot bemoediging. Wanneer ons nie meer woorde het nie, pleit die Heilige Gees vir ons by God.

Partykeer is dit genoeg om woordeloos in God se teenwoordigheid te sit en te weet dat die Gees vir ons bid, selfs wanneer ons nie die woorde het nie.

Daarom gaan ons vandag se dagstuk nie afsluit met ’n gebed nie, maar eerder met ’n oomblik van stilte, waarin ons woordeloos kan rus en bewus word daarvan dat die Heilige Gees in die stilte vir ons by God pleit. Rus vir ’n oomblik in die stilte en in God se teenwoordigheid.