Gedagte vir die dag | Donderdag 1 Junie 2023

 

1 Petrus 2:9-10 9Julle, egter, is “’n uitverkore geslag”, “’n koninklike priesterdom”, “’n heilige nasie”, “’n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – 10 julle wat eers nie ‘n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het.

Refleksie

Petrus praat hier met ’n groep gelowiges wat buitestanders is, nie-Jode wat nie kon deel in God se beloftes vir Israel nie. Petrus haal die teksgedeelte aan wat ons vroeër in die week gehoor het, wat vir Israel ’n spesiale identiteit onder al die volke gee. Dit wat vroeër waar was net vir Israel, word nou waar vir almal. Die gemeenskap met wie Petrus praat, is ’n gemeenskap van ’n klomp verskillende mense – mense van verskillende kulture, rasse en tale. Vroeër sou hierdie mense almal besny moes word en Israel se praktyke, kultuur en taal moes aanneem om deel te word van die volk van God en selfs dan sou hulle nie ten volle deel wees nie, omdat hulle nie uit die nageslag van Abraham is nie. Maar nou is die enigste kenmerk van God se volk die teenwoordigheid van die Heilige Gees en geloof in Jesus Christus. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees word die belangrikste kenmerk van die kerk. Die vraag is nie aan watter familie jy behoort of watter reëls jy onderhou nie, maar is die Gees van God teenwoordig?

Wat dink jy is vandag die belangrikste kenmerke van die kerk? Op watter dinge dink jy behoort die kerk en jy minder te fokus, sodat die teenwoordigheid van die Heilige Gees die belangrikste bly?

Die feit dat almal nou kon deel wees van God se uitverkore volk het ook spanning veroorsaak. Dit is duidelik dat diversiteit een van mees kenmerkende aspekte van die vroeë kerk was, maar dit beteken nie dit was maklik vir hierdie gemeenskappe nie. Inteendeel, diversiteit bring ’n stuk ongemak. Dit vra dat ons binne onsself, ruimte maak vir dié wat anders as ons is, ter wille van die Koninkryk. Dit is makliker om terug te val na wat en wie ons reeds ken en waarmee ons gemaklik is, maar Petrus maak dit duidelik dat die Gees ’n klomp verskillende mense deel maak van God se Koninkryk – veral die wat voorheen uitgesluit is. Daarom is vers 10 vir ons, wat reeds deel is van die kerk, ook ’n uitdaging: om dié wat uitgesluit en sonder ontferming is, in te sluit en genade te wys.

Reflekteer vandag oor hoe ons as kerk hierdie boodskap deur die Gees kan verkondig, sodat die wêreld kan hoor: “julle wat eers nie ‘n volk was nie, is nou volk van God, wat eers nie ontferming ontvang het nie, het nou ontferming ontvang”.

Gebed

Here, dankie dat U ons insluit as deel van U volk. Ons het geen reg om U kinders te wees nie, maar deur Jesus Christus en die teenwoordigheid van die Heilige Gees, word ons deel van U uitverkore volk. Ons wat voorheen geen volk was nie, het deel van U volk geword en ons wat sonder ontferming was, het ontferming by U gekry. Help ons om ook aan ander die genade te bewys wat U aan ons bewys.

Amen.