Gedagte vir die dag | Woensdag 31 Mei 2023

Handelinge 2:7-8 “Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. 18Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree.”

Refleksie

Hierdie teksgedeelte in Handelinge is Petrus wat die profeet Joël aanhaal. Met die uitstorting van die Heilige Gees was ’n klomp mense verward, of het selfs gesê dat die volgelinge van Jesus mal of dronk was. Petrus haal vir Joël aan om dit duidelik te maak dat wat die mense sien, God se droom vir die mensdom is: dat sy Gees op alle mense uitgestort word. Dit is wat Jesus Christus se dood en opstanding vir ons moontlik maak.

Gister het ons stil gestaan by die vraag: hoe sal ons wêreld lyk as almal met die Heilige Gees gevul word? Vandag se teksgedeelte nooi ons dieper in hierdie vraag in met ’n paar spesifieke mense en rolle wat genoem word.

Die groter prentjie is dat die koninkryk van God, en in Handelinge die kerk, ’n plek is waar almal gelyk is en almal welkom is: seuns en dogters, mans en vroue, oud en jonk – almal is welkom en elkeen het ’n rol.

Hoe sal die kerk lyk as dit hierdie droom bewaarheid? Ek wil glo die kerk is reeds op pad na hierdie visie. Dink oor wat ons nog prakties kan doen om nader aan hierdie visie te kom.

Daar word ook spesifieke rolle genoem. Seuns en dogters sal profete wees, jongmense sal gesigte sien, oumense sal drome droom.

Wat staan vir jou uit as jy dit hoor? Waar dink jy is jou plek in die kerk as jy iets hiervan hoor? Vra die Here vandag om jou in die Gees te lei op pad na hierdie droom vir sy Koninkryk en sy Kerk.

Gebed

Here God, met Pinkster vier ons die uitstorting van die Heilige Gees oor alle mense. Herinner ons vandag dat U Gees vir almal is – dat elkeen ’n plek het in u Koninkryk en u Kerk. Herinner ons dat elkeen van ons ook ’n spesiale plek en ’n spesiale rol het. Maak ons oë oop om te sien wat ons rol is en lei ons deur die Gees om die Kerk ’n plek te maak vir Almal.

Amen