Ons is in Pinkstertyd en daarom reflekteer ons die week oor ’n paar gedagtes oor die Heilige Gees. Die eerste gedeelte waaroor ons vandag reflekteer, noem nie spesifiek die Heilige Gees nie, maar verwoord iets van God se droom vir sy volk.
Eksodus 19:5-6. As julle dan nou getrou luister na my stem en my verbond nakom, dan sal julle onder al die volke my persoonlike eiendom wees, al behoort die hele aarde aan My. 6Vir My sal julle ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees.’ Dit is die woorde wat jy aan die Israeliete moet oordra.
Ek lees nou die dag van ’n kind wat na jare gevind is, nadat sy kort na haar geboorte vermis geraak het. Sy sou dit nie weet terwyl sy grootword nie, maar sy het aan iemand anders behoort. Toe sy uiteindelik gevind is, het sy bewus geword van iets wat nog altyd waar was, sy behoort aan haar ouers. Op dieselfde manier maak hierdie teksvers ons daarvan bewus dat die hele aarde aan God behoort, al is die aarde nie noodwendig bewus daarvan nie. Israel is in die bevoorregte posisie dat God hulle bewus maak van hierdie waarheid. Israel word uitgekies om in ’n spesiale verhouding met God te staan en sy persoonlike eiendom te wees. Die hele aarde behoort aan die Here, maar Israel het ’n spesiale rol hierin. Wat sou hierdie rol wees? Dalk om die res van die aarde bewus te maak van wat reeds waar is – dat ook hulle, aan God behoort. Die hele volk word geroep om priesters te wees, wat die ontmoeting tussen God en die aarde fasiliteer. Israel moes die volk wees deur wie die hele aarde vir God kan ontmoet en bewus word van wat reeds waar is – dat die hele aarde aan God behoort.
Reflekteer vandag oor hierdie gedagte: hoe kan ons, in ons daaglikse lewe, ’n plek wees waar ander vir God kan ontmoet en bewus word daarvan dat ook hulle aan God behoort.
Gebed
Here, hoe bevoorreg is ons om te weet dat ons aan U behoort. Nie net ons nie, maar die hele aarde. Dankie, dat U, in U genade ons bewus gemaak het van wat nog altyd waar is. Here, help ons om priesters van hierdie waarheid te wees, sodat ons die plek kan wees waar ander vir U ontmoet.
Amen