Jeremia 29:5. Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.
Wanneer onverwagte omstandighede oor ons as gelowiges se lewens kom, leef ons dikwels in die geloof dat die Here herstel sal bring. Dit is wel so. Die Here is by ons om reg te maak wat stukkend is en heel te maak wat seer is, maar dit gebeur dikwels op ander maniere as wat ons verwag. Die gevolg is dat ons nog vir baie lank in die mees ideale omstandighede in frustrasie kan bly wag. Dit is wat Jeremia se boodskap vir ons wil uitwys. Selfs al is hulle in ’n vreemde land, kultuur en godsdienstige omgewing is God steeds by hulle om nuwe lewe vir hulle oop te breek. Die omstandighede waarin jy jou bevind mag dalk nie vir jou ideaal wees nie, maar wees bewus hoe die Heilige Gees jou wil inspireer om ook daaruit iets nuut te voorskyn te bring.
Gebed
O genadige en heilige Vader, gee my die wysheid om U in my omstandighede raak te sien. Die intelligensie om iets van U te verstaan, die ywer en geduld om op U te wag, ‘n hart wat oor U liefde en heiligheid nadink en ‘n lewe wat U grootheid in my omstandighede verkondig. Ek vra dit deur die krag van die Gees van Jesus Christus.
Amen.