Jesaja 43:18-19. Maar moenie net aan die vroeë dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom.
Hoe is die Here vandag besig om met ons te praat deur Bybelverhale waarvan sommige soos in die Ou Testament selfs ouer as 2000 jaar is? Die wêreld waarin ons leef is soveel anders as toe. Het dit nog enige relevansie vir ons tyd? Toe priesters wat in die Babiloniese ballingskap vasgevang was probeer om antwoorde te vind op die redes vir hulle omstandighede het hulle iets besonders gedoen. Hulle het ou geskrifte en mondelinge verhale oor God se betrokkenheid by mense weer gaan lees. Dit het hulle tot skielike en nuwe insigte gebring wat hulle weer geïnspireer het om die geskrifte oor te skryf. Hierdie geskrif beslaan vandag die grootste deel van ons Ou Testament. Hoe lees ons dit vandag? Dit getuig oor baie meer as gelowiges se historiese ontmoeting met God. Dit wil ons inspireer om vandag presies dieselfde as die priesters in ballingskap te doen. Om God in die midde van politieke, ekonomiese en sosiale realiteite opnuut raak te sien. Om deel te raak van die nuwe wat God in ons eie tyd wil laat gebeur.
Gebed
O God van ruimte en tyd, U was die God van die stal en die vissersboot, die markplein, en die kruis, vertoon Uself ook nou in ons wêreld en ons tyd: as die God van die fabriek en die aandele beurs, van rys en koringlande, universiteit en tegniek, lugvaart en vlugtelingkampe, en van ons huise en harte. Mag al ons reise na U lei. En wanneer ons by U uitkom na Wie toe ons op pad was mag dit die begin wees van ‘n nuwe reis: as veranderde mense.