2 Korintiërs 5:17. Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Min mense sal sê dat wurms mooi is. Dalk eerder grillerig. Op ’n dag spin wurms hulleself toe in ’n kokon en wanneer hulle uitkom, is hulle pragtige skoenlappers! Wanneer die kokon oopgaan, is dit ’n heel nuwe skepping wat verskyn. Die wurm is weg. Daar is ’n skoenlapper. M.a.w. iets nuuts is gevorm. Dit is presies wat die Here ook met ons wil doen. Hy wil jou en my nuut maak – oormaak. Die sonde het ons kom lelik en vuil maak – soos wurms. Grillerig en afskuwelik. Maar Jesus wil ons nuwe mense maak. Hy wil ons so mooi maak soos ’n skoenlapper.
’n Nuwe lewe met ’n nuwe lewensuitkyk, nuwe standaarde en leefstyl is God se handewerk in ons lewens. In 2 Korintiërs 5 praat Paulus oor God se vernuwingswerk in mense se lewens. Hierdie vernuwingswerk kan in ons lewens gedoen word omrede Jesus vir al ons skuld betaal het. Jesus bring herstel en genesing in mense se lewens. God is die outeur van die verandering in ons lewens. M.a.w. wat Paulus sê is dat God die nuwe skepping bewerk op basis van dit wat Christus aan die kruis gedoen het. God neem die inisiatief om die ou sondige mens in ‘n nuwe skepping, ‘n nuwe werklikheid en ‘n nuwe mens te verander.
Deesdae is hierdie makeover programme baie gewild . . . ’n vaal persoon word oorgemaak en lyk soos ’n model. Paulus praat hier van ’n makeover, maar dit gaan diep . . . tot in jou siel. In Jesus kry jy ʼn egte en totale makeover! Het jy al hierdie makeover gekry?
GEBED
Net soos ek is, met my sonde so groot,
kom ek na U, my Verlosser, in nood.
Daar aan die kruis red U my van die dood –
Net soos ek is so ellendig en blind,
dikwels tog ook nog so wêreldgesind.
By U alleen is daar redding te vind –
Net soos ek is kom en buig ek my neer,
ek is met sonde bevlek, o my Heer. Net U kan, Heer, my verlorenheid keer AMEN