Jeremia 18:5-6. Toe kom die woord van die Here tot my: Kan ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel?
In die volgende week gaan ek enkele gedagtes uit die Pinkster reeks waarmee ons in die gemeente besig is met julle deel. Ons preekreeks handel oor gelowiges in die Babiloniese ballingskap en hoe God in die mees onverwagte omstandighede in hulle lewens en wêreld herlewing gebring het. Vandag se teks wat Jeremia aan die moedelose gelowiges in ballingskap rig ken ons baie goed. Daar is ‘n woord in hierdie teks wat ons maklik by verby lees en wat die betekenis daarvan op ‘n verrassende manier verruim. Dit is die woord “julle”. Ons lees so maklik net binne die konteks van ons eie lewens en verliese en besef nie dat die regmaak en oormaak waarvan hierdie teks praat ook met iets groter te doen het nie. Wat moet die Here in jou lewe oormaak, waar jy voel misluk het? Wat is daar om jou wat regmaak nodig het? Hoe is die Here besig om in hierdie tyd van jou lewe hierdie twee wêrelde bymekaar te bring?
Gebed
Here, daar is so baie dinge wat in my eie lewe reggemaak en oorgemaak moet word. Ek self dink dikwels dat my eie pogings tevergeefs is, omdat dit voel of ek niks uitgerig kry nie. Help my vandag Here om my gedagtes oop te maak vir die wyse waarop U dit wat in en om my gebeur bymekaarbring. Dankie dat my eie weerloosheid van wat in my lewe stukkend is, die sleutel is om vandag deel te kan word van die proses waarin U besig is om oor en nuut te maak.
Amen.