Gedagte vir die dag | Woensdag 17 Mei 2023

Kolossense 1:15-16. 15Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. 16God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie.

GEDAGTE

Francis Collins is ‘n briljante, wêreldberoemde medikus en genetikus. Hy het die span Wetenskaplikes gelei wat die menslike DNA ontrafel en beskryf het. Dit is ’n enorme wetenskaplike prestasie.

Collins beskryf sy persoonlike geloofsreis in sy boek, The language of God. Hoe meer Collins se insig en kennis oor die biologie gegroei het, hoe meer is hy gekonfronteer met die misterie van die skepping en die oortuiging dat God die oorsprong van lewe is.

Collins vertel: “Ek moes ’n besluit neem. ’n Hele jaar het verbygegaan sedert ek besluit het om in ’n soort van God te glo en nou het die oomblik gekom dat ek myself moes verantwoord. Op ’n pragtige herfsdag, terwyl ek in die Kaskadeberge gestap het, het die majesteit en prag van God se skepping my weerstand oorweldig. Toe ek om ’n hoek stap, kom ek onverwags op ’n gevriesde waterval, honderd voet omhoog, af. Ek het toe geweet my soektog is oor. Ek het net daar in die nat gras gekniel terwyl die son opkom en myself aan Jesus Christus oorgegee.”

Die Christus voor wie Collins kniel en buig, is dié Een deur wie alles geskep is, en wat deur sy verlossingswerk ook die Hoof van die kerk geword het.

Dit is net die Christelike godsdiens wat Jesus as God erken. Tog is dit duidelik uit die woorde van Jesus dat Hy nie net die Seun van God is nie, maar ook self God is. Paulus skryf in Kolossense 1 dat Jesus teenwoordig was by die skepping. God het deur Hom geskep. Hy was reeds voor alles geskep is al daar. Hy hou alles in stand. Wanneer ons na Jesus kyk sien ons God self.

In Johannes 10:30 getuig Jesus self: “Ek en die Vader is een.” En in Johannes 14:9 : “Wie My sien, sien die Vader.” Wie Jesus ken, ken die Vader, wie Jesus sien, sien die Vader. In Jesus het God naby ons gekom. Het jy al soos Collins hierdie Jesus, wie ook God is, in jou lewe aanvaar?

GEBED

Hemelse God en Vader ek aanvaar Jesus as my Verlosser.

AMEN