Gedagte vir die dag | Vrydag 3 Februarie 2023

 

Markus 6:31.  31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”

GEDAGTE

Weens die vinnige tempo van die lewe en die geweldige druk waaronder ons verkeer, kry ons min die kans om rustig te raak. Ons besef dat ons moet afskaal, maar ons weet nie hoe nie. Daar is eenvoudig nie tyd om gereeld stiltetyd te hou, of om die skoonheid van die natuur te bewonder nie. Ons jaag eenvoudig deur die lewe.

Dalk funksioneer jy goed onder druk, maar die beste stuk masjienerie moet ook van tyd tot tyd gediens word. Jou gees en liggaam het tye van herstel nodig.

Jesus het besef dat die groot taak van die dissipels hulle totaal kon ooreis. Om hierdie rede het hy hulle byeengeroep sodat hulle vir ’n ruk hulle werk opsy kon skuif en eers saam met Hom tot rus kon kom. Dit is net so nodig vir ons ook vandag. Maak gereeld ’n afspraak met jou Hemelse Vader om tyd saam met Hom deur te bring. Jou liggaam, siel en gees het dit nodig.

GEBED

Hemelse God en Vader, jammer dat ek dikwels so gejaagd lewe en nie tyd maak om stil te word by U nie.

Amen