Gedagte vir die dag | Dinsdag 31 Januarie 2023

Romeine 12:2. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

GEDAGTE

As die ware geloof in ons harte ingeplant is, en ons nuwe mense geword het, dan moet ek verander: my maatstawwe moet anders word.  My optrede en gedrag moet dan deur die Woord van God beheer en gelei word. My manier van praat, gesindheid teenoor my naaste, optrede teenoor my medemens, my verhouding teenoor my huwe­liksmaat asook my kinders en ouers ver­raai so dikwels ons swakhede. Maar meer nog – my wyse van gemeen­skap met God toon so maklik my onvolmaaktheid en gebrek aan erns en toewyding.

Daarom sê hierdie teks ook dat ons in ons verstand en denke moet verander, sodat ons kan begryp wat die wil van God is. Die evangelie van Jesus Christus moet reg verstaan word; met ons verstand moet ons dit be­gryp. Hy sê letterlik dat ons ver­stand voortdurend ’n metamorfose moet ondergaan. Alleen die Heilige Gees kan dit in ons en vir ons be­werk. Hy maak ook my denke heel en spreek my diep in my binneste aan, sodat ek kan weet wat reg en verkeerd is. Dan begin ek insien dat God se wil altyd goed is en dat ons Hom altyd moet behaag en dien en dat sy wil oor my lewe altyd die beste is.

Ons moet verander. Die probleem is net dat daar so baie in hierdie wêreld is wat ook van ons vra om te verander. Die duiwel hou met behulp van massamedia aan ons ’n prentjie voor van hoe ons behoort te dink en te lyk en te doen wat heeltemal indruis teen dit wat God van ons vra. En die moeilikheid is dat ons só met hierdie verkeerde dinge gebombardeer word, dat ons later daaraan gewoond begin raak. Soveel so dat dit ons later nie meer pla nie, en erger nog, dat ons dit later as normaal aanvaar. Daarom moet hierdie ook daagliks ons gebed wees. Sodat God ons sal vernuwe.

GEBED

Hemelse God en Vader. Verander my denke verander my hele lewe asseblief. Ek wil al meer en meer soos Jesus wees.   Amen