Gedagte vir die dag | Saterdag 28 Januarie 2023

Rigters 6:36-40 “Toe het Gideon met God gespreek: As U werklik deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het ek sal die wolvlies op die dorsvloer neerlê: as daar net op die vlies dou is, terwyl die grond oral droog is, dan sal ek weet dat U deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het. En dit was so…”

’n Algemene openbaring is byvoorbeeld soos in die storie waar God Gideon geantwoord het deur ’n wolvlies. Hoe hoor jy God se stem vandag en wat wys God jou vir 2023? Dit is baie keer vir ons moeilik om die stem van God te onderskei, maar wat ek wel weet is dat God wel praat. Dalk nie altyd op maniere wat vir ons bekend is nie nie en soms beleef ons ’n woestyntyd waar ons niks hoor nie, maar God is steeds by jou. Vertrou Hom en gaan na Hom toe. Jy aanbid ’n liefdevolle God wat met jou wil praat. Partykeer sal dit gebeur wanneer jy na musiek luister of dalk in die natuur stap en selfs wanneer jy in Sy Woord wandel. Waar dit ook al gebeur, luister na sy stem. En onthou, jy kan altyd weer vra vir ’n bevestiging om seker te maak jy het reg gehoor. Gesels dus met ander en bid saam vir wysheid en insig. Mag God jou die pad wys vir 2023 en onthou Hy praat selfs deur die dou…

Gebed: Here, ek het U lief. Vergewe my as ek so maklik wegloop van U af in tye van onsekerheid. Dankie dat U by my is en met my wil praat. Help my om te hoor as U praat. Amen.