Gedagte vir die dag | Vrydag 27 Januarie 2023

Hebreërs 11:1 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Wat hoop jy om verder in 2023 te sien gebeur? Dalk om te presteer op verskeie gebiede? Dat beurtkrag tot ’n einde sal kom? Dalk is dit dat die Springbokke weer die wêreldbekertoernooi dié jaar sal wen? Ons baseer dikwels geloof op wat ons kan sien, maar is dit geloof? Is geloof nie juis om te vertrou dat God aan die werk is agter die skerms nie? Geloof is soms blind. Ons hoop kom dus vanuit ons terugkyk met die wete dat God al in die verlede voorsien het en deurbrake gegee het. Daarom moedig dit ons aan om te volhard, te vertrou en te droom. Mag jy die jaar vlug aan jou drome gee met die wete dat God na jou toe geloop kom vanuit die toekoms. God is reeds daar.

 

Gebed: Here ek glo in U en u heerlikheid. Ek is dankbaar dat U my God is en dat ek my vertroue in U kan plaas. Help my om vir ander mense ’n voorbeeld te wees van u goedheid. Laat U wil in my lewe geskied. Amen.