Matteus 6:30 “As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in ‘n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges?”
Wanneer laas het jy in God se tuin gewandel? In Sy skepping waar jy die misterie van God bewonder? Wanneer laas het jy net gestaar na ’n blom in die veld of ’n seeskulp in die water? Om te dink dat God dit alles gemaak het met sy handewerk. Net so het God vir ons ook gevorm. Ons is die kroon van Sy skepping. God het sy tyd geneem om soveel kleur in ons wêreld in te sit en Hy gee daagliks, sonder dat ons dit noodwendig raaksien, soveel meer vir ons. In ons nood, in ons behoeftes – God voorsien. God maak heel. God maak mooi. God sorg.
Mag ons vandag diep bewus raak van hoe Hy ons lewens mooi maak en mag ons vandag met dankbaarheid leef.
Gebed: Here, ek bid dat ek sal raaksien hoe U vir my sorg elke dag. Mag ek dit asseblief nie miskyk nie, want ek wil U mooiheid in my wêreld waardeer. Amen.