Gedagte vir die dag | Maandag 23 Januarie 2023

2 Korintiërs 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.”

2022 het gekom en gegaan en skielik is ons in 2023 en Januariemaand is ook besig om spoedig tot ’n einde te kom. Wat lê vir jou voor die jaar? Waaroor is jy opgewonde? Wat maak jou gespanne? Hoe leef jy van dag tot dag? Wat inspireer jou en gee jou krag vir elke nuwe dag?

Hoekom is dit dat so baie mense voel hulle lewens is sonder betekenis? Kan dit wees dat wanneer ons na ons lewens kyk, ons onvervuld voel omdat niks wat ons tot dusvêr gedoen het vir ons ware vrede of vreugde gegee het nie?

2 Korintiërs leer ons dat ons in Jesus Christus ’n nuwe wese is. Jou goeie dade en pogings sal jou nie in die regte verhouding met God plaas nie. Dit is jou geloof in Jesus wat dit doen. Hy het sy plek in die hemel verlaat om die gestalte van ’n baba aan te neem. Hy was ten volle God en ten volle mens. Hy het al ons sondes by die kruis op Homself geneem. Jesus het die prys aan die kruis betaal en by die leë graf die oorwinning behaal. Sodat wanneer jy in Hom glo, jou sonde wat jou van God skei, vergewe word, en jou verhouding met die lewende God herstel sal word. Jesus is genoeg.

Hy is Jou Nuwe Begin! Mag jy by Hom is Sy teenwoordigheid inspirasie vind vir 2023.

Gebed: Here Jesus, kom blaas opnuut vars U asem in my. Amen.